Nuus 12:00
BULLETIN 18 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Efficient-groep se hoof-ekonoom verwag die rentekoers sal vandag onveranderd bly
# Minister Kubayi sê die wreedaardige moorde op aanklaers is ‘n aanval op die regstelsel
# En ‘n rekordgetal besoekers stroom na Nampo se ekspo in die Wes-Kaap
# Die hoof-ekonoom van die Efficient-groep, Dawie Roodt, verwag dat die Reserwebank se monetêre beleidskomitee nie vandag die rentekoers gaan verander nie. Roodt sê al het die inflasiekoers ietwat verbeter van 3,5-persent in Julie na 3,3-persent verlede maand, sal die president van die sentrale bank, Lesetja Kganyago, waarskynlik ‘n verdere verlaging tot November vertraag. Die terugkoopkoers is tans sewe-persent en handelsbanke se prima-uitleenkoers 10,5-persent. Die komitee het die koers in Julie met 25-basispunte gesny.
# Die ANC sê die Madlanga-kommissie se werk sal ‘n belangrike rol speel om vertroue in die regering te herstel en demokratiese aanspreeklikheid te versterk. Die kommissie se sitting het gister in Pretoria begin met getuienis deur KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Die kommissie moet bewerings van misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. ʼn ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu, sê die stryd teen korrupsie is ononderhandelbaar:
Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê intussen die wreedaardige moorde op aanklaers is ‘n gruwelike aanval op die regstelsel en die oppergesag van die reg. Sy sê vyf aanklaers is die afgelope vyf jaar vermoor in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Kubayi sê hierdie aanvalle op mense in die regsberoep wat ‘n belangrike rol speel om geregtigheid en die oppergesag van die reg te handhaaf, is onaanvaarbaar:
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het sy groep van 34 bekendgemaak wat Nieu-Seeland in die laaste twee rondes van die Rugbykampioenskap gaan pak. Die stut James Slipper kan sy 150ste verskyning maak en aansluit by Alun-Wyn Jones van Wallis en die All Black, Sam Whitelock, wat die enigste spelers is wat nog hierdie mylpaal kon bereik. Die skrumskakel Jake Gordon, wat die eerste vier wedstryde van die kampioenskap misgeloop het, is terug na ‘n besering. Nog ‘n skrumskakel, Ryan Lonergan, is die enigste nuweling.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-371-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-655-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-50-sent per vat.
# En laastens, die sesde Nampo Kaap-ekspo het verlede week ‘n rekordgetal van 49-duisend-326 besoekers na Bredasdorp in die Wes-Kaap gelok. Die geleentheid bring produsente, landbou-ondernemings, beleidmakers en die breër gemeenskap bymekaar in ‘n atmosfeer wat sowel vernuwing en tradisie vier. Adjunkpresident Paul Mashatile het die ekspo besoek, waar hy gevra het vir samewerking in landbou, voedselsekerheid en ondersteuning vir opkomende boere. Nampo se hoofdirekteur, Dirk Strydom, sê die groei van Nampo-Kaap beklemtoon sy noodsaaklikheid as platform vir produsente in die Wes-Kaap se wintergraangebied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….