Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Menseregte-prokureur glo Suid-Afrika sal die saak teen Israel wen
# Die DA in die buiteland eis uitgebreide stemsentrums vir oud-Suid-Afrikaners
# En Dricus du Plessis kry ‘n heldeontvangs op OR Tambo
# Die bekende internasionale menseregte-prokureur, Francis Boyle, glo Suid-Afrika sal ‘n noodbevel teen Israel kry om geweld en volksmoord teen die Palestyne te beëindig. Môre se uitspraak sal bepaal of ‘n skietstilstand in Gaza ingestel gaan word en meer humanitêre hulp in die gebied toegelaat sal word. Boyle het aan die Anadolu-agentskap gesê die bevel kan aansienlike gevolge vir Israel hê:
# Die DA in die buiteland het gedreig met regstappe teen die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking indien meer tydelike buitelandse sentrums nie vir oud-Suid-Afrikaners opgerig word nie. Die party vra 14 bykomende stemsentrums in die buiteland om toeganklikheidskwessies aan te pak vir Suid-Afrikaners wat ver van bestaande plekke af woon. Die departement voer egter aan die versoek moet aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie gerig word en sê die wet beperk die OVK se vermoë om stemsentrums te vergroot. Die DA het kommer uitgespreek nadat die aanlyn registrasieportaal vir buitelanders probleme ondervind het.
# Die regering se dieselkortingstelsel is onder die loep terwyl vervaardigers worstel met die stygende koste wat die voordele oortref. Die korting is aanvanklik bedoel om verligting te bring met brandstofheffings in primêre sektore, maar daar was uitdagings, veral vir vervaardigers van voedselprodukte. Ten spyte van ʼn verlenging van twee jaar wat in April toegestaan is weens die uitwerking van beurtkrag op voedselpryse, het baie vervaardigers nie die aanbod aangegryp nie. Die dieselkorting vir voedselvervaardigings sal in Maart volgende jaar ten einde loop.
# Gemengde gevegskuns: Suid-Afrika se eerste Ultimate Fighter-kampioen, Dricus du Plessis, het vanoggend ʼn heldeontvangs op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng ontvang. Hy het die verdedigende kampioen van Amerika, Sean Strickland, Sondag in Toronto, Kanada, in ʼn uitdagende geveg van vyf rondes verslaan om die UFC-middelgewigtitel te buit. Du Plessis sê die titel is vir hom ʼn groot stap vorentoe:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-en-67-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-12-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-40-sent per vat.
# En ten slotte: Die Athlone Skool vir Blindes in Kaapstad skryf die verbetering in sy matriekslaagsyfer, van 62,1-persent in 2022 tot 92,9-persent in 2023, toe aan leerder- en onderwyserstoewyding. Die skoolhoof, John Philander, het aan Newzroom Afrika gesê ná onderprestasie die afgelope vier jaar, het hul harde werk nou vrugte afgewerp, met twee van sy leerders wat nasionaal onder die topstudente gereken is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….