Nuus 12:00
BULLETIN 12 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof verwerp Bester en Magudumana se aansoek om ’n Netflix-dokumentêr te keer
# Die Solidariteitsbeweging betreur die dood van die Amerikaanse aktivis Charlie Kirk
# En die legendariese oud-Springbok Jan “Boland” Coetzee sterf op 80
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n dringende aansoek van die veroordeelde verkragter en moordenaar Thabo Bester en sy gewese vriendin, Nandipha Magudumana, met koste van die hand gewys. Hulle wou keer dat die Netflix-dokumentêr Beauty and the Bester uitgesaai word. Hulle het aangevoer dit bevat lasterlike inligting en maak inbreuk op hul reg op ʼn regverdige verhoor. Regter Suet Potterill het beslis die aansoek is nie dringend nie en die aanname van onskuldig tot skuldig bewys, sal nie deur die dokumentêr beïnvloed word nie.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, verwelkom die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se bereidwilligheid om ondersoekmagte na die metropolisie en wetstoepassing uit te brei. Die metro veg vir ʼn mate van regstreekse beheer oor die polisie, met groter vermoë om beleid en aanspreeklikheid te bepaal. Hill-Lewis sê met die oproep vir die afwenteling van sekere wetstoepassingsmagte wil die metro meer magte kry vir munisipale polisielede:
# Die Solidariteitsbeweging betreur die dood van die Amerikaanse aktivis Charlie Kirk, stigter van Turning Point USA, wat op ‘n verhoog by die Utah Valley Universiteit doodgeskiet is. Die beweging het sy medelye aan Kirk se familie, vriende en ondersteuners reg oor die wêreld gestuur en onthou hom as ‘n sterk voorstander van dialoog, samewerking en politieke deelname. Werner Human van die beweging vra almal om verskille te respekteer en politieke verdraagsaamheid te handhaaf.
# Die legendariese oud-Springbok Jan “Boland” Coetzee is op 80-jarige ouderdom oorlede. Hy het ook vir Westelike Provinsie en Maties uitgedraf. Coetzee het tussen 1974 en ’76 ses toetse vir Suid-Afrika gespeel, insluitend 1976 se tuisreeks teen die All Blacks wat die Bokke 3-1 gewen het. Coetzee het WP van 1967 tot ’79 verteenwoordig en was jare lank ʼn lid van die Universiteit Stellenbosch se rugbyspan. Hy het later ʼn bekende wynmaker geword op sy plaas, Vriesenhof, naby Stellenbosch.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-42-sent teen die dollar, 20-rand-42 teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-244-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-645-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, die plaaslike musiekgroep Mango Groove se 40ste herdenkingskonsert, Memories and Moments, vind Sondag in die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin in Johannesburg plaas. Dis die groep se eerste groot optrede in die stad in vyf jaar en volg op hul uitverkoopte herdenkingskonsert in Kirstenbosch, Kaapstad, in Januarie. Hoofsangeres Claire Johnston sê die gehoor kan ʼn nostalgiese viering verwag met treffers, stories en visuele materiaal, alles saamgevat in ʼn reuse-partytjie in Mango Groove-styl.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….