Nuus 12:00
BULLETIN 11 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beslis mans mag hul vrouens se vanne aanneem
# Die DA sê die polisie het steeds geen werkbare plan om bendegeweld op die Kaapse Vlakte te stop nie
# En AfriForum Jeug rig ‘n versoekskrif aan die Noordwes-Universiteit oor die slagspreuk ‘Kill the Boer’
# Die Konstitusionele Hof het in ‘n geskiedkundige beslissing gelas mans mag kragtens wet die vanne van hul vrouens aanneem, en dele van Artikel 26 van die Wet op die Registrasie van Geboortes en Sterftes ongrondwetlik verklaar. Dit volg nadat twee egpare aangevoer het die wet kom neer op geslags-diskriminasie. Regter Leona Theron sê die gebruik is gewortel in koloniale patriargie wat vroue in minderwaardige posisies plaas. Sy het die Parlement 24-maande gegee om die wet te wysig:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die verwoestende bendegeweld op die Kaapse Vlakte in Kaapstad wys hoe dringend noodsaaklik die afwenteling van polisiemagte na provinsies is om werklike veiligheid te verseker. Meer as 200 mense is verlede maand in bendeverwante voorvalle in die provinsie dood. Lisa Schickerling van die DA sê die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, se bekentenis dat daar steeds geen werkbare plan is om die bendegeweld teen te werk nie, is skokkend:
# AfriForum Jeug gaan vandag ‘n versoekskrif aan die bestuur van die Noordwes-Universiteit oorhandig oor die weiering om die slagspreuk “Kill the Boer” te veroordeel. Die eerste versoek wat in Junie aan vise-kanselier Bismark Tyobeka gestuur is, het gevolg nadat die kreet buite koshuise op die Potchefstroomse kampus gesing is. Yvonne Gerber van AfriForum sê hulle vra ook dissiplinêre optrede teen die betrokkenes. Lede van die jeuggroep sal die versoekskrif oorhandig aan die Kampusdirekteur vir Studentelewe, Corrie Rheeder.
# Rugby: Nieu-Seeland se afrigter, Scott Robertson, het ses veranderinge aangebring aan die span wat Saterdag in Wellington teen Suid-Afrika uitdraf in hulle tweede Rugbykampioenskapstoets. Die nuweling Leroy Carter vervang Rieko Ioane op linkervleuel. Samisoni Taukei’aho staan in vir Codie Taylor, wat harsingskudding het. Will Jordan verskuif van heelagter na regtervleuel in die plek van die beseerde Emoni Narawa. Noah Hotham en Tyrel Lomax is terug in die opdrafspan en Brodie McAlister is op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-53-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-152-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-628-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Entstof om chlamydia in Australië se koala-bevolking te behandel, is goedgekeur in die eerste projek van sy soort ter wêreld. Navorsers het die entstof ontwikkel om die buideldier te beskerm. Chlamydia is verantwoordelik vir die helfte van koala-sterftes in die land se wilde bevolkings, wat hoofsaaklik in die bloekomwoude langs die ooskus voorkom. Die wollerige diertjies is ‘n embleem van Australiese kultuur. Hulle is ook kwesbaar vir habitatverlies, aanvalle deur ander diere en word deur motors raakgery. Koalas is in 2022 tot kritiek-bedreig verklaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….