Nuus 12:00
BULLETIN 10 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sê Israel se aanval op Katarse grondgebied is ‘n blatante skending van internasionale reg
# Die regering sê Walmart se belegging in Suid-Afrika is ’n hupstoot vir die ekonomie
# En ‘n nuwe wêreldwye passasier-verbindingsdiens word vir lugrederye aangekondig
# Die regering het Israel se lugaanval in die Katarse hoofstad, Doha, veroordeel as onwettig en ongevraagd. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê dit was absoluut geregverdig omdat senior Hamas-leiers geteiken is wat die aanvalle van 7 Oktober 2023 georganiseer het. Vyf Hamas-lede is dood. Chrispin Phiri van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking sê die aanval op Katarse grondgebied is ‘n blatante skending van internasionale reg, terwyl dit ook die veiligheid van burgerlikes in gevaar gestel het:
# Die regering sê Walmart se belegging in Suid-Afrika is ‘n teken van vertroue en ʼn sterk geloof in die land se ekonomiese trajek. Die Amerikaanse kleinhandelreus beplan om sy eerste winkels later vanjaar in die land te open. Die winkels sal vars kruideniersware, huishoudelike artikels, klere en tegnologiese produkte verkoop, en sal produkte aankoop by plaaslike klein en medium-ondernemings. Die regering se woordvoerder, William Baloyi, sê hierdie belegging bevestig ook dat die land steeds ʼn betroubare beleggingsbestemming is:
# Die lugvaart internet-tegnologie-verskaffer, SITA, het ‘SITA Connect Fly‘ van stapel gestuur wat die hantering van passasiers sal moderniseer. Die stelsel vervang verouderde netwerke, verminder kostes, verhoog kuberbeskerming en verminder vertragings. Die stelsel is ten volle met SITA se inklok- en selfdoenstelsels geïntegreer, en maak vinniger en meer betroubare instapprosedures en beter vlugte moontlik. Lugrederye wêreldwyd kan nou veilig vanaf enige lughawe verbind, wat veerkragtige bedrywighede verseker terwyl passasiersvolumes groei.
# Rugby: Die Springbok-agterspeler Ethan Hooker sê hy is tegelykertyd senuweeagtig en opgewonde, maar fokus net daarop om na die beste van sy vermoë te speel. Die 22-jarige speler draf Saterdag die eerste keer in die opdrafspan uit wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Wellington kragte meet. Hy was verlede week in Edenpark op die plaasvervangersbank. Hooker sê sy enigste doelwit is om uit te gaan en homself sonder vrees uit te druk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-734-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-642-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Die produsente Babylonstoren, die DE Rustica-landgoed en Mardouw-beleggings is sommige van die groot wenners van vanjaar se SA Olyftoekennings wat in Wellington in die Wes-Kaap gehou is. Dit plaas die kollig op olyfboere wat hulself toelê op die vervaardiging van premium-olies wat met die beste in die wêreld kan meeding. ‘n Paneel kenners het die olies gesertifiseer en goue, silwer of brons seëls van uitmuntendheid toegeken. Die uitvoerende hoof van SA Olive, Wendy Petersen, sê die toekennings vier die hele bedryf se verbintenis tot gehalte en oorspronklikheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….