Nuus 12:00
BULLETIN 9 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Global Sumud-flottielje meld ‘n hommeltuigaanval op ‘n vaartuig aan in Tunisië
# Die Ministerie van Polisie en Justisie vergader met rolspelers in die Wes-Kaap te midde van die voortslepende bendegeweld
# En rugby: Ruan Nortjé is die Bulle se kaptein in die Verenigde Rugbykampioenskap
# Die Global Sumud-flottielje sê sy vaartuig, die Family Boat, is vandag in Sidi Bou Said-hawe naby Tunisië deur ‘n vermeende hommeltuig getref. Die ses mense aan boord, insluitend die Sweedse aktivis Greta Thunberg, is ongedeerd. Tunisiese owerhede het die bewerings ontken en sê reddingsbaadjies het die brand veroorsaak. Die Die organiseerders sê die vaartuig is in Tunisiese waters getref. Die projek, ondersteun deur aktiviste van 44 lande, insluitend Suid-Afrika, het beloof om voort te gaan met sy sending om humanitêre hulp aan Gaza te lewer.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, die adjunkminister, Polly Boshielo, en die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, vergader vandag met belangrike rolspelers in Mitchells Plain en Mfuleni in Kaapstad te midde van voortslepende dodelike bendegeweld in die Wes-Kaap. Die ministerie se woordvoerder, Kamogelo Mogotsi, sê verteenwoordigers uit burgerlike groepe, godsdiensleiers en gemeenskapspolisie-forums sal die geleentheid bywoon:
# Cosatu sê hy steun die vakbond Popcru se versoek dat polisielede se sterftetoelaag verhoog word. Sewe-en-twintig polisielede is tussen 1 April verlede jaar en 31 Maart vanjaar aan diens dood. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê dis onaanvaarbaar dat die sterftetoelaag sedert sy ontstaan op 250-duisend-rand bly en voeg by dit kan nie na hul dood die lede se gesinne onderhou nie:
ENG ZaneleOnGrant
# Rugby: Die nuwe afrigter van die Bulle, Johan Ackermann, het die Springbok-slot Ruan Nortjé as kaptein aangewys vir die komende Verenigde Rugbykampioenskaps-seisoen wat later die maand begin. Hy het ‘n groep van 56-spelers gekies in die groep, wat uit 32 voorspelers en 24 agterspelers bestaan. Dit sluit ervare spelers soos die Springbok-losskakel Handré Pollard en die senter Jan Serfontein in, en die Junior Bok-wêreldkampioene Esethu Mnebelele, JJ Theron, Jean Erasmus, Jaco Grobbelaar en Cheswill Jooste. Die Bulle se eerste wedstryd is tuis teen die Ospreys op die 27ste.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-49-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-11-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-644-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-64-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie deur die Universiteit Stellenbosch toon pa’s se drankgebruik kan kinders se groei en ontwikkeling benadeel. Navorsers het bevind pa’s wat baie drink tydens die ma se swangerskap word gekoppel aan kinders wat korter is, kleiner koppe het en laer punte op die verbale intelligensie-kwosiënt behaal. Marlene de Vries van die universiteit het op Internasionale Fetale Alkoholsindroomdag gesê die studie toon pa’s moet deel vorm van voorkomingstrategieë, aangesien hul alkoholgebruik ‘n regstreekse uitwerking op kinderontwikkeling het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….