Nuus 12:00
BULLETIN 5 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU steun die flottielje om die Gaza-beleg te breek
# Forum for SA sê AfriForum en Saai moenie geskiedenis as ‘n wapen gebruik om mense te verdeel nie
# En, verhoogde GPS-steurings oor die Baltiese See-streek skep veiligheidsrisiko’s vir burgerlike lugvaart
# Cosatu het sy solidariteit uitgespreek met tien Suid-Afrikaners aanboord die Global Sumud-flottielje, die grootste siviele maritieme poging om die beleg van Gaza uit te daag. Die vakbondfederasie het die solidariteit van internasionale werkers geloof en Italiaanse vakbonde erkenning gegee vir hulle dreigemente om Europa tot stilstand te bring as die flottielje aangeval word. Zanele Sabela van Cosatu sê die misdade van oorlog, volksmoord en apartheid is ‘n gedeelde stryd wat aandring op wêreldwye eenheid van die werkersklas:
# Forum for South Africa kritiseer AfriForum en Saai se oproep vir internasionale sanksies teen EFF-leier Julius Malema. Dit gaan oor die liedere wat hy sing, veral Kill the Boer. AfriForum beplan om later vanjaar ‘n afvaardiging na Europa te stuur om ondersteuning te werf vir geteikende sanksies teen Malema. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê AfriForum en Saai se optrede is volgens hom ʼn aanval op vryheid van spraak:
# GPS-steurings oor die Baltiese See-streek het sedert 2023 skerp toegeneem. Die Sweedse Vervoeragentskap blameer Rusland. Die aantal voorvalle in die Sweedse lugruim het van 55 in 2023 gestyg tot 733 vanjaar. Die steurings sluit beide valse posisionering en die versteuring of ontwrigting van seine in. Die agentskap sê dit is ernstig en is ‘n veiligheidsrisiko vir burgerlike lugvaart. Swede, Estland, Finland, Letland, Litoue en Pole het die kwessie vroeg in Junie by die Raad van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie, waarvan Rusland ‘n lidstaat is, geopper.
# Tennis: Die twee top-gekeurde mans is steeds op koers om mekaar Sondag te ontmoet in die eindstryd van die Amerikaanse Ope. Jannik Sinner van Italië en die Spanjaard Carlos Alcaraz oorheers die spel op die oomblik en het saam die laaste sewe Grand Slam-toernooie gewen. Sinner speel in die halfeindronde teen die 25ste-gekeurde Kanadees Felix Auger-Aliassime en Alcaraz speel teen die sewende-gekeurde Novak Djokovic. Die 38-jarige Serwiër se kans op ‘n rekord-25ste Grand Slam-titel raak al skraler voor sy loopbaan ten einde loop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-746-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-548-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-65-sent per vat.
# En laastens, ‘n strand in Melbourne, Australië, is hierdie week snags in ‘n “eteriese gloed” gebaai danksy bio-luminessensie alge wat ‘n glinsterende, elektriese blou skakering aan die water en sand gee. Die mariene-ekoloog Richard Pensak het aan CNN gesê die algebloei, wat soms ook ‘n “seevonkeling” genoem word, verskyn gedurende die dag as ‘n helder pienk-oranje wolk, maar verander snags in ‘n asemrowende ligvertoning. Die verskynsel word veroorsaak deur ‘n chemiese reaksie wanneer die alge beweeg of versteur word. Navorsing verbind die meer gereelde en intense algebloei aan warmer oseane.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….