Nuus 12:00
BULLETIN 2 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vleis-in- en uitvoerders is bemoedig deur die vordering met die hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking
# AfriForum is bekommerd oor die omvang van veediefstal in die land
# En rugby: Rassie gaan na verwagting eers Donderdag die span vir die wedstryd teen die All Blacks bekend maak
# Die Vereniging van Vleisinvoerders en -uitvoerders sê die minister van Landbou, John Steenhuisen, erken dat bek-en-klouseer ‘n nasionale noodsituasie is, en sê die vordering met ‘n oplossing vir die uitbreking is bemoedigend. Daar is tans 274 uitbrekings in vyf provinsies, waarvan 180 in KwaZulu-Natal is. Die vereniging se uitvoerende hoof, Imameleng Mothebe, verwelkom Steenhuisen se verkryging van bykomende entstof en die skepping van ‘n taakspan met lede uit die bedryf en die regering oor die voorkoming van dieresiektes:
AfriForum het intussen kommer uitgespreek oor die omvang van veediefstal in die land. Volgens die polisie se statistiek is daar in die 2024/25-boekjaar meer as 53-duisend-600 beeste gesteel. Verlede week is ‘n 34-jarige polisieman, wat deel is van die Veediefstaleenheid, in Standerton, Mpumalanga, in hegtenis geneem omdat hy na bewering 450-duisend-rand se beeste gesteel het. AfriForum se woordvoerder, Hennie Bekker, sê die publiek se vertroue in die polisie en sy veediefstaleenheid is ondermyn:
# Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê regverdigheid en deursigtigheid is ononderhandelbaar in die toekenning van visvangregte. Die departement het permitte om klein diepseevisse soos ansjovis en sardyne te vang, tot 3 Oktober verleng. Dit is genoodsaak hangende die hofuitspraak oor die afhandeling van appèlaansoeke in die 2021/22-visvangregte-toekenningsproses vir die klein pelagiese sektor. Minister Dion George sê hulle moet alle regsake oplos voor hulle besluite neem wat die houers van regte en die sektor se volhoubaarheid raak.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sal na verwagting eers Donderdag sy groep aankondig vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die All Blacks in Auckland. Hy wag steeds op nuus oor die beseerde kaptein, Siya Kolisi, en die veteraan Willie le Roux. Die ervare skrumskakel Faf de Klerk is die naweek na Nieu-Seeland ontbied nadat die haker Bongi Mbonambi verkies het om tuis te bly om na gesins-aangeleenthede om te sien. Erasmus sê hulle is nie seker wat om van die All Blacks te verwag nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-219-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-477-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-55-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Universiteit van Pretoria gaan dié week tydens sy Lente-gradeplegtigheid op die Hillcrest-kampus 169 doktorsgrade toeken. Meer as twee-duisend-100 studente sal grade ontvang. Benewens die doktorale gegradueerdes, sal 494 meestersgrade, 460 honneursgrade, 392 nagraadse diplomas, 355 BA-grade en 237 gevorderde diplomas en sertifikate toegeken word. Die kanselier, regter Sisi Khampepe, sê graduerings is ‘n bewys van Tuks se lang tradisie van akademiese uitnemendheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….