Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Gautengse hospitale het 1,7-miljoen-rand betaal vir duur kos by ‘n maatskappy van Limpopo
# Die staatsprokureur wil meer as 28-miljoen-rand se belastinggeld van Jacob Zuma verhaal
# En, tennis: Dayana Yastremska en Daniil Medvedev dring deur na die halfeindronde van die Australiese Ope
# Die DA in Gauteng sê dis onaanvaarbaar dat 11 provinsiale hospitale 1,7-miljoen-rand bestee het aan peperduur kos wat by ‘n sake-opleidingsmaatskappy in Limpopo aangekoop is. Die LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, het dit bekend gemaak in ʼn geskrewe antwoord op die party se opvolgvrae in die wetgewer. Jack Bloom van die DA sê die Leratong-hospitaal het die meeste kos by Mmanko Business Training and IT Solutions gekoop. Hy sê dit sluit melk in waarvoor hulle 32-rand per liter betaal het terwyl supermarkte dit vir 16-rand per liter verkoop:
# Die staatsprokureur en die Presidensie het met regstappe teen oudpresident Jacob Zuma begin, om meer as 28-miljoen-rand aan belastinggeld terug te kry wat aan die verdediging in sy korrupsieverhoor bestee is. Die Hooggeregshof in Pretoria én die Appèlhof het vroeër beslis dat Zuma nie geregtig is op onbeperkte fondse vir sy verdediging, wat die Presidensie sedert 2005 aan hom voorsien het nie. Zuma het nog altyd volgehou hy is geregtig op volle staatsbefondsing vir sy regskoste omdat hy beskuldig word van misdade wat regstreeks met sy rol in die regering verband hou.
# Die Vereniging van Staatsamptenare waarsku teen ʼn verhoging van die rentekoers met die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee wat vandag vergader. Baie sukkel nog met die nagevolge van die Covid-19-pandemie en die VSA benadruk die moontlike negatiewe uitwerking op Staatsdienswerkers en die ekonomie. ʼn Woordvoerder van die vereniging, Ruben Maleka, vra die komitee om sy besluit met deernis en verantwoordelikheid te neem. Maleka versoek die komitee om ʼn verlaging in die terugkoopkoers te oorweeg, wat broodnodige verligting sal meebring vir werkers wat finansieel swaarkry.
# Die Azanian People’s Organisation het ‘n waarskuwing uitgereik oor moontlike betogings indien die regering die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, se voorstel sou goedkeur om elektrisiteitstariewe te verhoog. Gordhan het ‘n gemiddelde opwaartse aanpassing van 18,65-persent vir 2023/24, en 12,74-persent vir die 2024/25 boekjaar versoek. Azapo se adjunkpresident, Kekeletso Khena, sê hul burgerlike versetoptrede teen verlede jaar se tariefverhoging het geen verandering opgelewer nie. Khena voer aan Eskom benodig ‘n einde aan wanbestuur en korrupsie eerder as bykomende fondse:
# Tennis: Dayana Yastremska van Oekraïne is die eerste kwalifiseerder sedert 1978 wat die halfeindronde van die vroue-enkelspel op die Australiese Ope haal. Die 23-jarige speler het die 19-jarige ongekeurde Linda Noskova van die Tsjeggiese Republiek 6-3, 6-4 geklop om die eerste Grand Slam-halfeindronde van haar loopbaan te bereik. Yastremska sal teen Zheng Qinwen van China of die Rus Anna Kalinskaya te staan kom vir ʼn plek in Saterdag se eindstryd. In die mansafdeling is Daniil Medvedev van Rusland die derde keer in vier jaar deur na halfeindronde. Hy het die Pool, Hubert Hurkacz, met 7-6, 2-6, 6-3, 5-7, 6-4 geklop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 39-duisend-916-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….