Nuus 12:00
BULLETIN 29 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lewenslange tronkstraf word gevra vir ‘n gewese onderwyseres wat haar kêrel se dogtertjie vermoor het
# Activists and Citizens Forum vra regering om in te gryp by Eskom se tariefverhogings
# En Frankryk, Duitsland en Brittanje wil VN-sanksies teen Iran herinstel weens sy kernprogram
# Women and Men Against Child Abuse het die gewese kleuterskoolonderwyseres, Amber-Lee Hughes, se skuldigbevinding verwelkom nadat sy erken het dat sy in 2023 haar kêrel se vierjarige dogtertjie verdrink het. Die Hooggeregshof in Johannesburg het Hughes skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade en verkragting van Nada-Jane Challita. Sy word in Oktober gevonnis. Die organisasie eis lewenslange tronkstraf. Hy sê hierdie hartverskeurende geval beklemtoon die dringende behoefte om aandag te gee aan kinders wat blootgestel word aan stiefouers of ongeskikte lewensmaats in wie se sorg hulle gelaat word.
# Die Activists and Citizens Forum sê die regering moet ingryp en verbruikers teen Eskom se tariefverhogings beskerm. Eskom en die Nasionale Energiereguleerder het buite die hof geskik en volgens die ooreenkoms sal kragtariewe die volgende twee boekjare elke jaar met 8,8-persent styg. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê hierdie roekelose verhogings moet stop:
# Die DA verwelkom die voorsitter van die Nasionale Vergadering, Cedric Frolick, se besluit om die minister van Hoër Onderwys, Buti Manamela, te ontbied om volgende maand voor die Toesigkomitee te verskyn. Die party-lid, Karabo Khakhau, sê die minister moet rekenskap gee van die groeiende skandaal rakende nuwe ANC-kaderontplooiings as administrateurs van Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede. Sy sê Manamela het ANC-kaders aangestel wat gekoppel is aan korrupsie, bedrog en wanbestuur:
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk, Duitsland en Brittanje het met die proses begin om die Verenigde Nasies se sanksies teen Iran weer in te stel om sy kernprogram in toom te hou. Dis in 2015 opgehef. Die nuwe sanksies sluit in die bevriesing van bates, opskorting van wapenooreenkomste en die beperking van enige ontwikkeling van Iran se ballistiese missielprogram. Die drie Europese lande, bekend as die E3, sê die kernprogram bly ‘n bedreiging vir internasionale vrede en veiligheid. Iran se Ministerie van Buitelandse Sake het die stap gekritiseer as uitdagend en onnodig.
# Rugby: Kaptein Victor Sekekete hoop om die Cheetahs in sy 100ste wedstryd te lei na ‘n oorwinning oor Griekwas in vanmiddag se Curriebekerwedstryd in Bloemfontein. Hy beskryf die mylpaal as ‘n droom wat verwesenlik is en sê ‘n oorwinning sal die kersie op die koek wees. Albei spanne het vier van hul vyf vorige wedstryde gewen, met die Cheetahs boaan die punteleer en die besoekers derde. Sekekete sê hulle het hul foute reggestel nadat hulle die Leeus verlede naweek amper toegelaat het om terug te kom in die wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-124-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-412-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….