Nuus 12:00
BULLETIN 28 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof beslis in Daily Maverick se guns in Mashawana se swygbevel-poging
# Die VF Plus is versigtig optimisties oor die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad
# En ‘n bruidegom word per ongeluk doodgeskiet op ‘n troue in Turkye
# Daily Maverick het die Hooggeregshof in Johannesburg se besluit verwelkom om die sakeman Collen Mashawana se dringende aansoek teen die publikasie met koste van die hand te wys. Hy wou hê die hof moet Daily Maverick en die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh verbied om verder verslag te doen oor bewerings van korrupsie teen hom, sy stigting en die geskorste hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Waarnemende regter Alex Pullinger het die aansoek van die rol geskrap. Myburgh sê dis ‘n groot oorwinning vir ondersoekende joernalistiek en mediavryheid.
# Die Vryheidsfront Plus sê hy is versigtig optimisties dat die Nasionale Onderwys- en Opleidingsraad positief sal bydra tot die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het gister die nuwe raadslede aangekondig. Die raad sal die minister se onafhanklike raadgewende liggaam wees in sleutel- onderwysbeleidsrigtings en -hervorming. Wynand Boshoff van die VF Plus sê egter hulle glo nie die land se onderwys sal losbreek uit sy huidige ideologiese grondslag nie:
Die onderwyser-vakbond Sadou het egter Penelope Vinjevold se aanstelling as voorsitter van die raad verwerp. Sadou se woordvoerder, Nomusa Cembi, sê dit wys op ‘n ontstellende bevestiging van die heerssugtige belange wat die geskiedkundig-bevoordeelde koloniale en Westers-gerigte onderwysmodelle ten koste van ware hervorming het:
# Rugby: Die losvoorspeler Pete Samu is die eerste keer sedert 2023 terug in die Wallabies se groep vir die twee Rugbykampioenskaptoetse teen Argentinië. Die ervare stut Allan Alaalatoa en die losskakel Tom Lynagh is ook in afrigter Joe Schmidt se groep van 36 ingesluit. Die enigste nuweling is die Brumbies se skrumskakel, Ryan Lonergan. Schmidt sê dis teleurstellend om sommige spelers te verloor, maar hy is tevrede dat hulle die diepte in die groep kan bereik wat hulle probeer skep.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-66-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-395-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-91-sent per vat.
# En om mee af te sluit: ‘n Bruidegom is dood nadat hy deur feestelike skote getref is na sy troue in die noorde van Turkye. Die pasgetroudes is na die seremonie huis toe begelei toe die 23-jarige bruidegom, uitgeken as Ali K, gewond is, na bewering deur ‘n vroulike familielid van sy vrou. Die 47-jarige vrou is deur veiligheidsmagte aangehou en twee ongelisensieerde pistole is in haar tuin gevind. Aanklaers het ‘n ondersoek na die voorval begin. Feestelike skote is algemeen op troues in die noordelike Swartsee-streek in Turkye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….