Nuus 12:00
BULLETIN 26 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie se verhore word uitgestel weens probleme met infrastruktuur-verkryging
# Die TLU SA sê daar is geen tasbare vordering met die hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking nie
# En die hoof van die Verenigde Nasies vra ‘n ondersoek na die dodelike lugaanvalle in Gaza
# Die Madlanga-kommissie sal nie op 1 September kan begin met sy ondersoek na bewerings van politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel nie. Dit word daaraan toegeskryf dat die Department van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling probleme ondervind met die verkryging van noodsaaklike infrastruktuur. Die voorsitter, regter Mbuyiseli Madlanga, sê dit is betreurenswaardig dat ’n aansienlike deel van die tydperk van drie maande waarna die kommissie ’n tussentydse verslag moet indien, verstryk het sonder dat ’n enkele getuie aangehoor is.
# Die landbou-organisasie TLU SA is bekommerd oor die staat se gebrekkige vermoë om die bek-en-klouseer-uitbreking doeltreffend te beheer. Die siekte is in minstens vier provinsies aangemeld. TLU SA se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die beweging van lewende hawe sonder behoorlike beheermaatreëls vererger die situasie terwyl ekonomiese druk op boere toeneem. Hy sê die huidige regulatoriese raamwerk verhoed die privaat sektor om betrokke te raak by die vervaardiging en verspreiding van entstowwe:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, vra ‘n onmiddellike en onpartydige ondersoek na dodelike Israelse aanvalle op die Nasser-hospitaal in Khan Yunis, Gaza. Minstens 20 mense, insluitend vyf joernaliste, is volgens berigte in die aanvalle dood. Die joernaliste het vir Reuters, Associated Press, Al Jazeera en Middle East Eye gewerk. Guterres se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê ʼn onmiddellike en permanente skietstilstand is Gaza is nou nodiger as ooit:
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris het met die Argentyn, Sebastian Baez, afgereken in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope. Die Spanjaard Carlos Alcaraz het Reilly Opelka van Amerika verslaan terwyl hy mik na sy tweede titel op Flushing Meadows. Casper Ruud van Noorweë het die Oostenryker, Sebastian Ofner, geklop. In die vroueafdeling het die Australiese Ope-kampioen, Madison Keys, onverwags in drie stelle teen Renata Zarazua van Mexiko verloor. Nog ʼn Amerikaner, Venus Williams, het ook in drie stelle teen die Tsjeg Karolina Muchova verloor.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-91-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-377-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-68-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse Hart- en Beroerte-stigting maak gereed om volgende maand Hartbewustheid-maand te vier wat ‘n hoogtepunt bereik met Wêreld-hartdag op 29 September. Vanjaar se tema is: Moenie ‘n hartklop mis nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is kardiovaskulêre siektes op 32-persent wêreldwyd die grootste oorsaak van sterftes. Dis opmerklik dat 85-persent van hierdie sterftes weens hartaanvalle en beroertes is. Die stigting sê hierdie siektes kan voorkom word deur risiko-faktore soos rook, ongesonde dieet, gebrek aan oefening en lugbesoedeling te verminder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….