Nuus 12:00
BULLETIN 25 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê ekonomiese diplomasie is ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se buitelandse beleid
# Pandor sê die ANC het vergeet hy bestaan om die mense te dien
# En Tatjana Smith word vereer op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika se ekonomiese diplomasie is gefokus op die verkryging van marktoegang, die lok van beleggings en die bevordering van volhoubare ontwikkeling. Hy het verlede week deelgeneem aan die negende internasionale konferensie oor Afrika-ontwikkeling in Tokio, Japan. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief weens die wêreldwye handelsontwrigtings en toenemende druk op tariewe, is deelname aan forums soos die konferensie die sleutel tot pogings tot ekonomiese diplomasie. Hy voeg by Suid-Afrika bepleit steeds ‘n internasionale handelsregime wat billik, regverdig en op reëls gegrond is.
# Die ANC-veteraan en voormalige minister, Naledi Pandor, sê die party het sy glorie verloor en vergeet dat hy bestaan om die mense te dien. Sy was ‘n spreker op die Gertrude Shope-gedenklesing in Pretoria. Shope is in Mei vanjaar oorlede op die ouderdom van 99. Pandor sê landsburgers kyk met minagting, skok en skaamte na die ANC. Sy sê egter die party kan homself steeds vernuwe en die verval keer deur die regte leiers aan te stel:
# Die Kaapstadse polisie het ‘n soektog begin na drie verdagtes nadat drie mense gisteroggend in Eersterivier doodgeskiet is. Volgens voorlopige inligting het drie onbekende gewapende mans die perseel in Daventry-straat binnegegaan waar die drie slagoffers in die tuin gesit het. Hulle het op hulle losgebrand en al drie doodgeskiet. Die verdagtes het weggehardloop. Kleinvlei se polisie ondersoek drie aanklagte van moord.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, sê Rusland het aansienlike toegewings gemaak in samesprekings om sy oorlog teen Oekraïne te beëindig. Die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergey Lavrov, hou vol dat enige veiligheidswaarborge aan Oekraïne ook Rusland en sy grootste bondgenoot, China, moet betrek, sowel as Amerika, Brittanje en Frankryk. Vance het aan NBC gesê nóg sanksies kan teen Rusland ingestel word om die Kremlin te laat instem tot vrede, maar daardie besluite sal wissel van geval tot geval:
# Sportnuus: Die swemmer Tatjana Smith, wat vier Olimpiese medaljes ingepalm het, is op die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings as Sportvrou en Sportster van die Jaar aangewys. Sy het uitgetree ná verlede jaar se Spele in Parys. Die fietsryer Alan Hatherly is Sportman van die Jaar, en Simoné Kruger en Mpumelelo Mhlongo Sportvrou en Sportman van die Jaar met gestremdhede. Die vier-maal-100-meter mans-aflosspan is Span van die Jaar danksy hul silwermedalje in Parys. Smith sê dit was spesiaal om die land te verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-52-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-630-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….