Nuus 12:00
BULLETIN 22 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Weermag ontken dat sy Oryx-helikopters in die DRK agtergelaat is
# Die vise-president van die Europese Kommissie sê Vladimir Putin kan nie vertrou word nie
# En rugby: Fassi vervang die beseerde Le Roux in die Bokke se opdrafspan
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê nie een van sy Oryx-helikopters is in die Demokratiese Republiek die Kongo agtergelaat nie. Volgens berigte het die helikopters weens ‘n gebrek aan geld in die DRK agtergebly. Die SANW sê net een helikopter is verlede jaar tydens die Verenigde Nasies se vredesoperasies beskadig en sal herstel word. Hy sê ander helikopters word gebruik en bly onder sy streng beheer. Die Weermag sê die berigte is misleidend.
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, is bekommerd oor opmerkings wat die bevoegdheid en integriteit van die Parlement se Regsdienste bevraagteken. Die dienste is onder die loep geneem in die ad hoc-komitee wat die bewerings van die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, ondersoek. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, bevestig Didiza se vertroue in die hoogs-gekwalifiseerde regspan en beklemtoon hul professionaliteit, etiese gedrag en grondwetlike kundigheid. Hy sê persoonlike aanvalle op regsraadgewers ondermyn die Parlement se geloofwaardigheid:
# Die Wes-Kaapse E-taxi Vereniging eis ‘n openbare verskoning van die provinsiale polisie-kommissaris, Thembisile Patekile, omdat daar nie dringend opgetree word teen misdade teen e-taxi-operateurs nie. Die vereniging se adjunk- hoofsekretaris, Yusuf Moalim, sê die kommissaris het dadelik reageer op die gewelddadige aanval op drie DA-parlementslede in Philippi, Kaapstad, vroeër die week. Hy sê hulpbronne is gebruik en die verdagtes is vinnig opgespoor en in hegtenis geneem:
Nuus uit die buiteland:
# Die vise-president van die Europese Kommissie, Kaja Kallas, waarsku die Russiese president, Vladimir Putin, kan nie vertrou word om enige belofte of ooreenkoms te eerbiedig nie. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se spesiale gesant, Steve Witkoff, het vroeër die week bevestig Putin het ingestem om Amerika toe te laat om Oekraïne van ernstige veiligheidswaarborge te voorsien. Kallas het aan die BBC gesê veiligheidswaarborge moet sterk en geloofwaardig wees, en die beste waarborg is ‘n sterk Oekraïense Weermag:
# Rugby: Aphelele Fassi sal môre vir die Springbokke op heelagter uitdraf in die tweede Rugbykampioenskapstoets teen die Wallabies in Kaapstad. Dit volg nadat Willie le Roux weens ʼn besering onttrek het. Hy sukkel met die besering sedert ʼn oefening vroeër die week en dit het nie betyds herstel nie. Fassi, wat al in 13 toetse gespeel het, was ook verlede week in Johannesburg in die opdrafspan toe die Bokke 38-22 verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-en-55-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….