Nuus 12:00
BULLETIN 21 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand vertoon stewig ondanks die Amerikaanse handelstariewe
# Die VF Plus sê Mahlangu en Manamela moet verantwoordelik gehou word vir die Life Esidimeni-tragedie
# En Shoprite onttrek na 25 jaar aan Malawi
# Die ekonoom, Frederick Mitchell, sê die rand se vroeë waardevermindering na die instelling van die Amerikaanse tariewe was te wagte en is grootliks in die prys ingereken. Die eenheid het aanvanklik verswak maar sedertdien verstewig, aangehelp omdat die instelling tot 7 Augustus uitgestel is. Landbou-uitvoere ondervind verminderde aanvraag in Amerika, maar word gedeeltelik teengewerk deur nuwe handelstransaksies met China, terwyl vervaardiging veral in die Oos-Kaap kwesbaar bly. Mitchell beklemtoon dat beleggersvertroue voortduur, wat die belangrikheid van mark-uitbreiding, strategiese vooruitskouing, en bestendige fiskale bestuur onderstreep om die ekonomie bestendig te hou.
# Die Vryheidsfront Plus sê dit sal ‘n ernstige onreg wees as die gewese Gautengse LUR van Gesondheid, Qedani Mahlangu, en die gewese direkteur van geestelike gesondheid, Makgabo Manamela, nie verantwoordelik gehou word vir die Life Esidimeni-tragedie nie. Meer as 140 psigiatriese pasiënte het in 2016 gesterf nadat hulle van die Life Esidimeni-instellings na swak toegeruste staatshospitale en nie-regeringsoranisasies verskuif is. Philip van Staden van die Vryheidsfront Plus sê hy neem kennis van die regsmening wat aanbeveel Mahlangu en Manamela moet vervolg word:
# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê Ford, Nissan en Citroën is besig om verskeie modelle te herroep nadat hulle talle gebreke identifiseer het. Die reuse-motorvervaardiger Ford herroep meer as 20-duisend voertuie in Suider-Afrika weens veiligheidsredes. Dit sluit die Ranger- en Everest-modelle in wat tussen 2021 en vanjaar gebou is. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê Nissan herroep die Qashqai-model wat tussen September 2021 en April verlede jaar verkoop is, weens batteryverbindingsprobleme wat tydens die produksieproses voorgekom het:
# Die Suid-Afrikaanse kleinhandelreus Shoprite gaan na 25 jaar aan Malawi onttrek en soek na plaaslike kopers om sy belange oor te neem. Dit volg na die onlangse sluiting van winkels in Blantyre en Llongwe oor skendings van higiëne-reëls en verstrykte goedere. Die onttrekking is deel van Shoprite se strategie om sy nie-kernmarkte in Afrika te verminder nadat hy ook aan Nigerië, Kenia en Uganda onttrek het. Ekonomiese uitdagings, insluitend Malawi se tekort aan buitelandse valuta, het sy probleme vererger. Gaan datum vir die onttrekking is gegee nie.
# Tennis: Die Italianers Sara Errani en Andrea Vavassori is die tweede agtereenvolgende jaar die Amerikaanse Ope-gemengde dubbelspelkampioene. Hulle het die derde-gekeurde Iga Swiatek en Casper Ruud in ‘n valbylpot verslaan op die Arthur Ashe-stadion in New York. Dit is slegs die vyfde keer dat ‘n gemengde dubbelspelspan agtereenvolgens die Grand Slam-toernooi kon wen, en slegs die tweede keer in vier dekades. Vavassori sê hy het dit geniet om in die herontwerpte gemengde dubbelspelformaat te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 113-duisend-863-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….