Nuus 12:00
BULLETIN 19 Augustus 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die TLU SA verwelkom die sterk prestasie van landbou-uitvoere na Amerika
# ‘n Gautengse taxi-alliansie distansieer hom van die moord by die Maponya-winkelsentrum
# En die Camino de Santiago-pelgrimsroete is gesluit weens verwoestende brande in Spanje
# Die landbou-organisasie TLU SA het die oplewing in Suid-Afrika se landbou-uitvoere na Amerika verwelkom. Nuwe data wat die Landbou-sakekamer vrygestel het, toon landbou-uitvoere na Amerika het in die tweede kwartaal vanjaar met 26-persent toegeneem teenoor dieselfde tydperk verlede jaar. Die produkte sluit sitrus, druiwe, neute en wyn in. Bennie van Zyl van TLU SA sê die onlangse instelling van ‘n tarief van 30-persent op uitvoere na Amerika wek kommer:
# Die Nasionale Taxi-alliansie in Gauteng het hom gedistansieer van gerugte dat taxibestuurders verantwoordelik is vir die wrede aanvalle op e-taxibestuurders in Soweto. Die e-taxibestuurder Mthokozisi Mvelase is verlede week vermoor en sy motor aan die brand gesteek, na bewering deur taxibestuurders, terwyl hy by ‘n oplaaipunt by die Maponya-winkelsentrum in Soweto was. ‘n Passasier en nog ‘n bestuurder het ontsnap. Woordvoerder Theo Malele sê die taxibedryf staan vrede voor:
Nuus uit die buiteland:
# Die Franse president, Emmanuel Macron, sê ʼn skietstilstand is ʼn noodsaaklike voorwaarde vir onderhandelinge om die oorlog tussen Oekraïne en Rusland te beëindig. Die Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër gesê dis nie nodig nie omdat ʼn vredesooreenkoms uitgewerk kan word al is die oorlog aan die gang. Trump het gister met sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, en Europese leiers in die Withuis vergader. Macron sê Amerika se verbintenis om sekerheidswaarborge vir Oekraïne te ontwikkel is die belangrikste uitkoms:
# Krieket: Die Protea-snelbouler Kagiso Rabada sal weens ‘n besering nie in die drie eendagwedstryde teen Australië speel nie. Die 30-jarige het inflammasie in sy regter-enkel. Hy sal in Australië bly en behandeling ondergaan by die span se mediese personeel. Australië se kaptein, Mitch Marsh, het vanoggend die loot gewen en gekies om eerste veldwerk te doen in die eerste kragmeting in Cairns. Dewald Brevis speel sy eerste eendagwedstryd vir die Proteas, wat 296 vir agt aangeteken het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-072-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-68-sent per vat.
# En laastens, Spanje het nog 500 soldate ontplooi om veldbrande te bestry wat onder snikhete omstandighede deur die land versprei. Dit bring die aantal soldate op een-duisend-900 te staan. ‘n Deel van die beroemde Camino de Santiago-pelgrimsroete is gister gesluit terwyl die brande na die suidelike hange van die Picos de Europa-bergreeks versprei het. Nederland het twee waterstortingsvliegtuie ontplooi wat aansluit by dié uit Frankryk en Italië wat reeds die Spaanse owerhede bystaan. Brandbestryders uit ander lande sal na verwagting binne die volgende paar dae aankom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….