Nuus 12:00
BULLETIN 20 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige stadsbestuurder van Ekurhuleni se leierskaps-toekenning word teruggetrek te midde van ‘n korrupsiesaak
# Die Wes-Kaapse premier sê projekte vorder om infrastruktuur te herstel
# En sokker: Mbappé wen die Wêreldbekertoernooi se Goue Stewel en Rodri is aangewys as beste speler
# Die voormalige stadsbestuurder van Ekurhuleni in Gauteng, Imogen Mashazi, is gestroop van haar Toekenning vir Uitnemende Leierskap in die Openbare Sektor van 2020 ná haar hofverskyning op aanklagte van bedrog, korrupsie en regsverydeling. Sy word daarvan beskuldig dat sy geskorste amptenare van Ekurhuleni se Metropolisie beskerm en ingemeng het in tugprosesse, insluitend die bloulig-skandaal. Die besluit volg ná ‘n versoek deur ‘n burgerlike aktivis om die toekenning te hersien terwyl strafregtelike verrigtinge voortduur. Die toekenningskomitee sê die herroeping beskerm die program se integriteit en geloofwaardigheid.
# Die DA het ‘n aansoek ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die polisie en die Weermag se tussentydse verslag oor Operasie Prosper te bekom. Woordvoerder Nicholas Gotsell sê daarsonder kan geen antwoorde of tasbare oplossings gebied word aan bende-geteiserde gemeenskappe nie. Hy sê waarnemende minister Firoz Cachalia het reeds erken dat nie ‘n enkele bende ontbind is na drie maande se ontplooiing nie:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die permanente herstelwerk aan infrastruktuur wat tydens die onlangse oorstromings beskadig is, sal twee jaar neem om te voltooi. Dit sluit Meiringspoort, Swartberg-pas en talle skole in. Winde verstaan die belangrikheid van die paaie, brûe en passe wat sakeondernemings in staat stel om te gedy en inwoners toegang gee tot geleenthede. Hy sê spanne fokus daarop om veilige oplossings so vinnig moontlik in te stel:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het Amerika en Israel se voortgesette oorlog teen Iran veroordeel. Die konflik het reuseverwoesting vir die mense van Iran veroorsaak en die wapenstilstand ondermyn. Albei lande het die afgelope weke verskerpte militêre aanvalle teen mekaar uitgevoer. Die SAKP sê ondanks openbare uitsprake oor vrede, lyk dit nie of die Amerikaanse Weermag en sy bondgenote enigsins van plan is om Iran en sy mense te spaar nie. Die party meen die oorlog is ‘n desperate en vernietigende daad deur Amerika as ‘n roekelose supermoondheid.
# Sokker: Frankryk se kaptein, Kylian Mbappé, het die eerste speler geword om ‘n Wêreldbekertoernooi se Goue Stewel twee keer te wen. Sy tien doele maak hom die Wêreldbeker se beste doelskieter ooit met altesaam 22. Kaptein Rodri, wat ‘n sleutelspeler was in Spanje se opmars na ‘n tweede titel, het die Goue Bal vir beste speler gewen en sy 19-jarige spanmaat, Pau Cubarsi, is beste jong speler. Unai Simón van Spanje het die Goue Handskoen vir beste doelwagter ontvang nadat hy in agt wedstryde net een doel afgestaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-185-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-20-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….