Nuus 12:00
BULLETIN 7 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP is geskok oor die bewerings teen die minister van Polisie
# Eenheid 4 van die Medupi-kragstasie voor skedule aan die kragnetwerk gekoppel
# En rugby: ‘n Sterk Australies-Nieu-Seelandse span gaan die Leeus pak
# Die Inkatha Vryheidsparty het skok en kommer uitgespreek oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings. Hy beskuldig die minister van Polisie, Senzo Mchunu, van sameswering en inmengery by hoëprofiel-ondersoeke. Mkhwanazi beweer ook die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde is ‘n poging om belangrike ondersoeke te ondermyn. Die IVP sê Mchunu moet op spesiale verlof geplaas word en president Cyril Ramaphosa moet onmiddellik ʼn onafhanklike kommissie van ondersoek aanstel om die bewerings te ondersoek.
Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sal intussen na verwagting hierdie week die jongste inligting verskaf oor die voortsetting van polisiebedrywighede wat misdaadvoorkoming en -bestryding betref. Hy sal ook ‘n aankondiging doen oor ‘n waarnemende afdelingskommissaris vir Misdaadintelligensie. Die polisie se nasionale woordvoerder, Athlenda Mathe, sê die land kan verseker wees dat daaglikse misdaadbestrydingsoperasies en normale wetstoepassings-take by polisiestasies en ander polisie-dienspunte sonder onderbrekings voortgesit word:
# Eskom sê Eenheid 4 van die Medupi-kragstasie in Limpopo is agt maande voor skedule weer aan die kragnetwerk gekoppel. Die eenheid was sedert 8 Augustus 2021 buite werking ná aansienlike skade aangerig is deur ‘n ontploffing. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die eenheid dra 800 megawatt by tot die kragnetwerk, as deel van sy strategiese doelwit om twee-duisend-500 megawatt by die netwerk te voeg:
# Rugby: Afrigter Les Kiss het ‘n sterk Australies-Nieu-Seelandse uitnodigingspan gekies om Saterdag in Adelaide teen die Britse en Ierse Leeus te speel. Die groep sluit in agtien toetsspelers wat gesamentlik in 300 wedstryde gespeel het. Hulle sluit in die All Blacks David Havili, Shannon Frizell en Hoskins Sotutu en die Wallabies Marika Koroibete, Pete Samu en Lukhan Salakaia-Loto. Kiss sê baie werk is agter die skerms gedoen om die span op te bou en dit is opwindend om die vordering te sien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-935-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-62-sent per vat.
# En laastens, dit is vandag Wêreld-sjokoladedag en die regte dag om te smul aan die ryk, romerige bederf. Sjokolade se geskiedenis gaan meer as vyf-duisend-300 jaar terug toe die Mayo-Chinchipe-kultuur die eerste keer kakaobone in Ecuador begin gebruik het. Talle van die mees geliefde sjokoladestafies soos Cadbury se Flake, Milky Way, KitKat, Aero en Smarties is in die goue era van sjokolade-vindingrykheid in die 1920’s en ’30’s bekendgestel. Dis interessant om te weet dit neem tussen twee en vier dae om een sjokoladestafie te maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….