Nuus 12:00
BULLETIN 4 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kleiner partye kom tot ANC se redding as DA hulle onder druk plaas
# Motoriste word gewaarsku om versigtig te wees met verwagte stormweer in Wes-Kaap
# En, Rusland is die eerste land wat Taliban-regering in Afghanistan erken
# Die DA se federale voorsitter, Ivan Meyer, sê ná ‘n jaar in die regering van nasionale eenheid staan die DA op teen die ANC in belang van ʼn beter Suid-Afrika. Meyer sê egter elke keer as die DA dit doen, pamperlang die ANC kleiner partye binne en buite die RNE om tot hul redding te kom. Hy sê die DA sal korrupsie beveg en ontbloot en Suid-Afrika eerste stel terwyl hierdie kleiner partye hulleself posisioneer sodat die ANC hulle in die RNE kan insluit.
# Die Wes-Kaapse LUR van Vervoer, Isaac Sileku, waarsku padgebruikers, voetgangers en operateurs van openbare vervoer om uiters versigtig te wees in die verwagte stormweer. Hy sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku ‘n reeks kouefronte sal die provinsie van vandag tot Sondag tref. Sileku sê daar is elke jaar in die winter dieselfde uitdagings met verspoelde strate en swak sigbaarheid wat die risiko vir bestuurders en voetgangers vergroot:
# Afghanistan se regering sê Rusland is die eerste land wat sy regering amptelik erken en noem dit ʼn “dapper besluit”. Die Taliban het in 2021 aan bewind gekom nadat hulle die buiteland-gesteunde regering omvergewerp en ʼn streng weergawe van Islamitiese wette ingestel het. Hulle het amptelike internasionale erkenning en belegging gesoek terwyl die land herstel van vier dekades van oorlog, wat die Sowjet-inval van 1979 tot 1989 insluit. Afghanistan se minister van Buitelandse Sake, Amir Khan Muttaqi, het dit gister in Kaboel aangekondig ná ʼn ontmoeting met die Russiese ambassadeur in Afghanistan, Dmitry Zhirnov.
#Tennis: Carlos Alcaraz wil later vandag sy aanslag op ‘n derde opeenvolgende Wimbledon-titel momentum gee wanneer hy teen die Duitse buiteperd Jan-Lennard Struff te staan kom. Emma Raducanu van Brittanje gaan op haar beurt probeer om die nommer 1-speler Aryna Sabalenka by die lys te voeg van gunstelinge wat uitgeskakel word. Alcaraz weet hy moet sy afslaan aan die gang kry om sy Wimbledon-titel te verdedig en hy hoop om dit in die derde ronde te doen. Raducanu glo sy kan Sabalenka klop nadat sy Woensdag die Wimbledon-kampioen Marketa Vondrousova verslaan het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-773-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-1-sent per vat.
# En laastens, die Do More-stigting het hulle Mandeladag-veldtog bekend gestel en vra Suid-Afrikaners om te help om klimaatsweerstandige vroeë onderwys-ontwikkelingsentrums in arm gemeenskappe op te rig. Jessica Ronaasen van die stigting sê vanjaar se veldtog gaan oor die idee dat ʼn beter klimaat-toekoms begin by kinders wat speel. Sy sê met klimaatsverandering wat toeneem, is jong kinders veral kwesbaar vir die uitwerking daarvan:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….