Nuus 12:00
BULLETIN 2 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement aanvaar ‘n verwysingsraamwerk vir ‘n ondersoek na finansiële wangedrag by die Padongelukkefonds
# Rugby: Die Leeus verwag ‘n baie taaier wedstryd teen die Reds vandag
# En Suid-Afrika is vasbeslote om die wêreldrekord te verower vir die grootste braai
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge het die verwysingsraamwerk aanvaar vir ‘n formele ondersoek na bewerings van finansiële wangedrag en wanadministrasie by die Padongelukkefonds. Die ondersoek sal fokus op die fonds se bedrywighede van 2020 tot vanjaar, insluitend kwessies soos verkryging, regskoste en bedrog. SKOOR se voorsitter, Songezo Zibi, sê die doel is om die waarheid te ontbloot en seker te maak belastingbetalers se geld word gebruik om padongelukslagoffers te help:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê die passasiersgetalle bly hoog by die sentrale sekerheidspunt op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng. ACSA se woordvoerder, Thea Govindsamy, sê mense beweeg nog effens stadiger, maar sekerheidsbedrywighede word goed ondersteun, met nege siftingsmasjiene wat tans gebruik word. Sy sê die ontwrigting, wat toegeskryf word aan bedryfsprobleme, raak slegs OR Tambo, en bedrywighede op alle ander lughawens in die ACSA-groep verloop normaal:
# Die DA in Tshwane sê privaat brandweerdienste moet gereguleer word en nie verwyder nie. Die DA-raadslid Alfred Makhafula voer aan dat Tshwane se nooddienste onder druk is as gevolg van begrotingsinperkings, personeeltekorte en verouderde infrastruktuur. Hy sê die reaksie van gekwalifiseerde privaat lede is noodsaaklike ondersteuning. Makhafula moedig die stad aan om verouderde wette by te werk en saam met die regering te werk om ‘n lisensiestelsel te ontwikkel wat openbare en privaat nooddienste integreer:
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se hoofafrigter, Andy Farrell, verwag vandag ‘n baie taaier wedstryd teen die Reds in Brisbane nadat hulle Western Force 54-7 afgeransel het in Saterdag se eerste toerwedstryd in Perth. Farrell sê hulle moet aanpasbaar wees met nege wedstryde binne vyf weke, insluitend drie toetse teen die Wallabies. Die Reds word afgerig deur Les Kiss, wat volgende jaar oorneem by die Wallabies. Farrell sê dis ‘n skitterende span en sal altyd goed voorbereid wees waar Kiss betrokke is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-82-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-657-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-336-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika maak gereed vir die Guinness-wêreldrekord vir die grootste braai. Die titel behoort sedert 2017 aan Uruguay wat 16,5 ton vleis gebraai het. Castle Lager en Big Save gaan op Erfenisdag op 24 September gasheer wees vir die wêreld se grootste braai. Om die geleentheid af te skop, het Castle die “Grillboard” onthul. Dis ‘n advertensiebord met ʼn ingeboude, werkende braai in Vilakazi-straat in Soweto wat die nasie reeds opgewonde maak oor die Trots Suid-Afrikaanse uitdaging. Handelsmerk-direkteur Thomas Lawrence sê die wêreld se grootste braai hoort in Suid-Afrika.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….