Nuus 12:00
BULLETIN 1 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontvoerde baba word ongedeerd gevind in Kaapstad
# Die polisie stel sy eerste aanlyn-werwingsveldtog bekend
# En Musk verskerp weer sy aanvalle op Trump
# ‘n Vermiste pasgebore seuntjie, Mogamat Imaad Shamar, is ongedeerd gevind in Tafelsig in Mitchells Plain, Kaapstad. Polisiewoordvoerder Frederick van Wyk sê ‘n multidissiplinêre taakspan het onvermoeid gewerk sedert ‘n saak van ontvoering Saterdag by Bellville se polisiestasie geregistreer is. Hy sê die baba is by ‘n plaaslike winkelsentrum ontvoer:
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sy heel eerste aanlyn werwingsveldtog vir vyfduisend-500 leerlingpolisielede van stapel gestuur. Die veldtog sal tot 18 Julie duur. ‘n Woordvoerder, Amanda van Wyk, sê rekrute sal streng keuring ondergaan voordat hul opleiding van nege maande begin en sal ‘n maandelikse toelaag ontvang:
# Die Stad Tshwane het regstappe gedoen om te keer dat privaat brandweerdienste sonder goedkeuring bedryf word. Die munisipaliteit sê maatskappye soos Fire Ops SA en Fidelity Securefire oortree die wet, trek water uit die stad se brandkrane sonder toestemming en ontwrig nooddienste. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê slegs die stad het die grondwetlike gesag om brandweerdienste te lewer en waarsku dat die privaat operateurs slegs op welgestelde gebiede fokus:
# Elon Musk het na weke van relatiewe stilte ná sy geskil met Donald Trump weer gewaarsku die Amerikaanse president se sogenaamde groot, lieflike wetsontwerp gaan nasionale skuld laat styg. Die wêreld se rykste mens het sy aanvalle teen Trump se voorgestelde belasting- en bestedingswetsontwerp verskerp na sy aanvanklike uitbarsting. Musk het op X gesê mense wat ‘n veldtog vir besnoeiing gevoer het maar nou die wetsontwerp ondersteun, moet hul koppe in skaamte laat sak. Hy sê dis tyd vir ʼn nuwe politieke party wat omgee vir die mense.
# Tennis: Yulia Putintseva van Kasakstan het tydens haar eersteronde-wedstryd op Wimbledon gevra dat ʼn toeskouer verwyder word nadat sy kommer uitgespreek het oor sy gedrag. Die 30-jarige Putintseva het aan die begin van haar wedstryd teen die Amerikaner, Amanda Anisimova, die skeidsregter genader om die toeskouer te rapporteer. Dit was nie onmiddellik duidelik hoe daar opgetree is nie, maar spel het hervat nadat die skeidsregter met sekerheidspersoneel gepraat het. ʼn Sigbaar emosionele Putintseva het die wedstryd binne 44-minute 6-stroop, 6-stroop verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-962-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….