Nuus 12:00
BULLETIN 17 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sê die regering oorweeg om die Koalisiewetsontwerp te bespoedig voor die verkiesing
# Die Gautengse varkbedryf verloor meer as tien-miljoen-rand weens Afrika-varkpes
# En motorsport: Norris word met tien wegspringplekke gestraf vir die Belgiese Grand Prix
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die regering oorweeg dit om die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture voor November se plaaslike regeringsverkiesing te bespoedig om bestendigheid ná die verkiesing te bevorder. Die wetgewing, ook bekend as die Koalisiewetsontwerp, beoog om ‘n wetgewende raamwerk in te stel vir die vorming en bestuur van koalisieregerings en stelsels te skep om koalisies se uitdagings binne plaaslike regering te beperk. Hlabisa sê die wetsontwerp sal ook onetiese manipulering van rade deur partye met minder verteenwoordiging beperk.
# Die Gautengse LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Landbou en Landelike Ontwikkeling, Vuyiswa Ramokgopa, sê die provinsiale varkbedryf het meer as tien-miljoen-rand verloor ná sewe uitbrekings van Afrika-varkpes in Tshwane sedert November verlede jaar. Meer as 69-duisend varke is geraak in handels- en kleinskaalse boerderye, waarvan ongeveer 60-duisend vankant gemaak moes word. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê Afrika-varkpes en bek-en-klouseer dui op breër swakhede in provinsiale gereedheid vir dieregesondheid:
# Die vakbond vir werkers in die bankwese, SASBO, het kommer uitgespreek oor African Bank se planne om een-duisend-200 mense af te dank en byna 900 takke te sluit om volhoubaar te bly. Die bank het verlede maand ‘n verlies van 624-miljoen-rand aangeteken vir die halfjaar tot einde Maart, nadat sy koste-basis sy risiko-aangepaste inkomste oorskry het. SASBO sê hy ondersteun nie die voortydige publikasie van inligting oor moontlike werksverliese wanneer betekenisvolle beraadslaging en besprekings met georganiseerde arbeid nog nie plaasgevind het nie.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, beweer China het probeer inmeng in 2020 se verkiesing om te verhoed dat hy wen, ondanks Amerikaanse intelligensie-agentskappe se gevolgtrekking dat China dit wel oorweeg het om die uitslag te beïnvloed, maar daarteen besluit het weens kommer dit sal betrekkinge met Amerika benadeel. Trump beweer ook China het 220-miljoen Amerikaanse kiesersrekords onwettig bekom en beskryf dit as die grootste skending van verkiesingsdata in die geskiedenis:
# Motorsport: Die heersende Formule Een-wêreldkampioen, Lando Norris, word met tien wegspringplekke gestraf in die Belgiese Grand Prix nadat die toegelate krageenheid-toewysings oorskry is. Sy McLaren sal met ʼn nuwe krageenheid toegerus wees, sy vierde hierdie seisoen, wat een meer is as wat toegelaat word sonder straf. Norris sal Sondag hoogstens in die elfde posisie kan wegspring, maar sê die opgraderings wat aangebring is, sal hopelik ʼn verskil maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-781-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-993-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….