Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê onderrig kan die kringloop van armoede tussen geslagte verbreek
# TLU SA dien insette in by minister Godongwana voor die begroting
# En, tennis: Dayana Yastremska en Linda Noskova haal die eerste Grand Slam-kwarteindronde van hul loopbaan
# President Cyril Ramaphosa sê onderrig is baie meer as persoonlike verbetering of om ‘n werkskwalifikasie te behaal; dit is ‘n leer waarmee mens uit armoede kan klim. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief die prestasies van verlede jaar se matrieks toon die regering se vordering om onderwys meer toeganklik en gelyk te maak. Ramaphosa sê die regering volhard met sy reuse-belegging in die verbetering van skoolinfrastuktuur, insluitend sanitasie vir skole en ondersteuningsmateriaal aan ouers en leerders in arm gebiede.
# Die landbou-unie, TLU SA het ‘n brief aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, geskryf oor kwessies wat noodsaaklik is vir volhoubare voedselvoorsiening. Dit is in aanloop tot volgende maand se begrotingsrede. Die unie se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê ʼn voorstel wat kommersiële boere toelaat om in goeie jare winste belastingvry te spaar sodat hulle in swak jare met produksie kan voortgaan, is noodsaaklik. Hy sê daar moet beter voorsiening wees om boere tydens rampe by te staan sodat hulle met produksie kan voortgaan:
# ʼn Onafhanklike ontleder sê probleme by Kaapstad se hawe moet dringend opgelos word. Massiewe agterstande en vertragings het ontstaan as gevolg van toerusting wat breek, ʼn tekort aan arbeid, gebrekkige instandhouding, ʼn afname in produktiwiteit, asook sterk wind. Vrugteboere is gedwing om hulle handelseisoen met ʼn agterstand te begin. Sommige vrugte-uitvoere is 60-persent laer as verlede jaar. Mbuso Zulu het aan Newzroom Afrika gesê die terugslag in vrugte-uitvoere is kommerwekkend:
# Tennis: Die kwalifiseerder Dayana Yastremska van Oekraïne is deur na die eerste Grand Slam-kwarteindronde van haar loopbaan nadat sy die tweemalige kampioen, Victoria Azarenka van Belarus by die Australiese Ope verslaan het. Die 23-jarige Yastremska het die wêreld se voormalige nommer een met 7-6 en 6-4 geklop. Die Tsjeggiese tiener Linda Noskova is ook deur na haar eerste major-kwarteindronde nadat Elina Svitolina van Oekraïne weens ʼn rugbesering aan haar wedstryd in die ronde van 16 moes onttrek. Yastremska sê sy moes alles uithaal om Azarenka te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-891-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en- 23-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-91-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Suid-Afrikaanse rolprent Runs in the Family het ‘n benoeming vir ‘n GLAAD Media-toekenning ontvang in die afdeling van Uitsonderlike Fliek, stroming of TV-kategorie. Die fliek volg die avontuur van ‘n Indiese pa en sy transgender seun wat van die een kant van Suid-Afrika na die ander ry om die seun se ma uit ‘n rehabilitasiekliniek te red. Ander benoemings saam met Runs in the Family – wat tans op Netflix te sien is – sluit in Renaissance van Beyoncé, Rustin deur Barack en Michelle Obama se produksiemaatskappy, Higher Ground, en All Of Us Strangers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….