Nuus 12:00
BULLETIN 29 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party en UAT sluit aan by die Konstitusionele Hof-aansoek oor Ramaphosa se ampsklagproses
# Trump vra die Hooggeregshof om die lasteruitspraak oor E Jean Carroll tersyde te stel
# En rugby: Erasmus is verheug om spelers soos Kolisi en Etzebeth beskikbaar te hê vir die wedstryd teen Argentinië
# Die MK-party en United Africans Transformation het aangesluit by die African Transformation Movement en die EFF se regstreekse appèlaansoek na die Konstitusionele Hof teen die Wes-Kaapse Hooggeregshof se toestaan van ‘n interdik aan president Cyril Ramaphosa om die ampsklagproses te staak. Andile Mngxitama van die MK-party het aan Newzroom Afrika gesê die Parlement moet kan vasstel of daar rede is vir ‘n ampsklag ingevolge Artikel 89 van die Grondwet:
# Die Land- en Landbou-ontwikkelingsbank van Suid-Afrika wil kliënte betrek om volhoubare oplossings te identifiseer gemik op sy skuldinvorderingsprosesse en voortgesette litigasie met betrekking tot sekere landbouleners. Ongeveer 150 handelsboere en boerdery-instellings beweer die bank het nie die wettige magtiging om op hul bates beslag te lê nie omdat daar geen regstreekse leningsooreenkomste is nie. Die Landbank erken die kommer wat geopper is en die beduidende uitwerking wat finansiële nood op boere, hul werknemers, gesinne en landelike gemeenskappe kan hê.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het die Hooggeregshof versoek om ‘n jurie-uitspraak van 1,39-miljard-rand vir laster ten gunste van die tydskrif-rubriekskrywer, E Jean Carroll, tersyde te stel. Dit gaan oor sy aanmerkings toe hy in 2019 president was en Carroll se bewering ontken het dat hy haar in die middel 1990’s seksueel aangerand het in die kleedkamer van ‘n afdelingswinkel in New York. Sy regspan voer aan die lasteruitspraak moet tersyde gestel word omdat hy weens sy presidentskap immuniteit het teen sulke regsgedinge.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê byna die volle groep is fiks vir volgende naweek se eenmalige toets teen Argentinië in Buenos Aires. Ox Nché en Franco Mostert is nie deel van die span vir Suid-Amerika nie, maar spelers soos kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager en Sacha Feinberg-Mngomezulu is terug na ‘n lang afwesigheid. Ses-en-twintig Springbokke vertrek Saterdag. Erasmus sê die fokus is nou heeltemal op Los Pumas:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-239-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-38-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: SANParke het ʼn duisend duine-spinasie-struike by die Boulders-pikkewynkolonie in Kaapstad aangeplant as deel van ʼn voortgesette veldtog om hulle habitat te herstel. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê die saad is by Boulders geoes en by die Kaap die Goeie Hoop-kwekery ontkiem voor dit weer in die kolonie geplant is. Hy sê die struik is ʼn inheemse plant wat aan die Suid-Afrikaanse kus voorkom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….