Nuus 12:00
NUUSFLITS NUUSAGENTSKAP 15 November 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre komitee bekragtig die DA se plan om B-T-W op nog kosprodukte af te skaf
# Agt winkels in die Johannesburgse middestad word deur ‘n brand geraak
# En, rugby: Die Walliese Rugby-unie beloof om aanbevelings van ‘n verdoemende onafhanklike ondersoek in te stel
# Die DA verwelkom die parlementêre staande komitee op Finansies se bekragtiging om die zero-BTW-kosmandjie uit te brei met die doel om geldelike druk op huishoudings te versag. Die Nasionale Tesourie skimp oor moontlike belasting-maatreëls om inkomste-tekorte aan te vul, maar die party is hewig gekant teen bykomende belasting. Woordvoerder Dion George het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, te midde van ekonomiese uitdagings gevra om vinnig op te tree en noodsaaklike items van BTW vry te stel. Hy is ten gunste van omsigtige bestedingsbestuur as ‘n altenatief tot belasting-verhogings:
Speel klankgreep: ENG GeorgeOnVAT
# Brandbestryders van die Stad Johannesburg se Noodbestuursdienste het vroeër gereageer op ‘n brand op die hoek Jeppe- en Pollystraat in die Johannesburgse middestad. Die brand is onder beheer gebring. Aaltesaam agt klein winkels is geraak. Geen beserings is aangemeld nie. Die woordvoerder van Johannesburg Nooddienste, Xolile Khumalo, sê brandinspekteurs sal nou ondersoeke doen om die oorsaak van die brand te bepaal:
Speel klankgreep: ENG XolileonFireCBD
# Die ekonoom, Dawie Roodt, het Suid-Afrika se nuwe belastingaansporing vir omgewingsbewaring, veral renoster- en leeu-beskerming, gekritiseer. Hy voer aan die aansporing, wat belastingbetalers toelaat om fondse te rig aan bewaringspogings is onbeduidend, en stel voor ‘n doeltreffender benadering sou wees om privaat eiendomsreg te beskerm. Hy beveel aan renostereienaars moet toegelaat word om hul diere, insluitend hul horings, te verkoop om tasbare geldwaarde te skep. Die belastingaansporing beoog om jaarliks sowat 1,5-miljoen-rand vir bewaring te skep, maar daar bestaan skeptisisme oor die uitwerking daarvan op bioverskeidenheid en finansiële doeltreffendheid.
# Die president van Kenia, William Ruto, het ondertussen onderhandelaars wat betrokke is by die Globale Verdrag oor Plastiekbesoedeling aangemoedig om dringend ‘n ooreenkoms op te stel. Verlede jaar het 175 lande hulle daartoe verbind om teen volgende jaar ‘n Verenigde Nasies-verdrag te sluit om plastiekbesoedeling in die oseane te bekamp. Ruto het tydens die derde ronde samesprekings in Nairobi die behoefte beklemtoon vir lande om alternatiewe vir die gebruik van plastieksakke te ondersoek, wat die beginsels van hergebruik, hervul en herstel weerspieël. Ruto het ook ‘n beroep op innoveerders gedoen om in Afrika te belê en sy natuurlike hulpbronne te benut vir planeetvriendelike alternatiewe:
Speel klankgreep: ENG-RutoOnTreaty
# Rugby: Die nuwe uitvoerende hoof van die Walliese Rugby-unie, Abi Tierney, het beloof dat al die aanbevelings van die onafhanklike ondersoekverslag ingestel sal word. Die ondersoek het bevind aspekte van die unie se kultuur is seksisties, bevooroordeeld teenoor vroue, rassisties, homofobies en word nie behoorlik hanteer nie. Die 36 aanbevelings dek bestuur, klagtehantering, die unie se benadering tot insluiting en verskeidenheid, en die hantering van vroue-wedstryde. Tierney sê die verslag maak hulle nederig en beskryf kwessies, optrede en houdings wat hulle beskaamd laat.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 19-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 35-duisend-746-dollar-70-sent. Die prys van goud is een-duisend-971-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….