Nuus 12:00
BULLETIN 30 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis ‘n verduideliking van minister Tau oor ANC-aanstellings op die raad van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie
# Vandag is die spertyd vir die indiening van openbare kommentaar oor die hersiening van 1998 se Witskrif oor Plaaslike Regering
# En sokker: PSG dring deur na die kwarteindronde van die Klub-Wêreldbekertoernooi
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging, Mzwandile Masina, moet ‘n besluit neem oor die EFF se versoek om minister Parks Tau te ontbied. Die EFF-LP en woordvoerder van die party, Sinawo Thambo, sê hulle is bekommerd oor die onlangse aanstelling van drie ANC-kaders op die raad van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie. Thambo sê Ayanda Dlodlo, Nomusa Dube-Ncube en Sydney Mufamadi se aanstellings is onvanpas en bring die NOK se rol in gedrang. Tau se kantoor het nog nie gereageer op vrae oor die aanstellings nie.
# Die publiek het tot die einde van vandag om kommentaar in te dien oor die hersiening van 1998 se Witskrif oor Plaaslike Regering. Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosi Hlabisa, sê baie munisipaliteite is in die moeilikheid weens swak inkomstebasisse. Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het voorheen beklemtoon dat die witskrif goeie wetgewing was, maar dat dit nie ten volle in werking gestel is nie. Die hersiening het ten doel om plaaslike regering te moderniseer en uitdagings aan te pak wat dienslewering en munisipale prestasie beïnvloed.
# Die Stad Kaapstad herinner huishoudings om maandelikse munisipale dienskoste te verminder omdat nuwe tariewe en eiendomsbelang môre van krag word. Huishoudings gebruik in die winter gewoonlik meer elektrisiteit met verwarmers en warmwatertoestelle. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Xanthea Limberg, sê die groter verbruik raak elektrisiteitsrekeninge:
# Sokker: Paris Saint-Germain het Lionel Messi se span, Inter Miami, 4-0 verpletter om die kwarteindronde van die Klub-Wêreldbekertoernooi te haal. Afrigter Luis Enrique sê dit was nogal moeilik om Miami te klop. Die Spanjaard sê PSG se spelpeil is tans uitstekend en hulle hoop om in Amerika te seëvier. Inter Miami se afrigter, Javier Mascherano, sê hy is tevrede met sy span se vertoning en voeg by Messi kon sy staal toon ondanks die nederlaag. PSG speel Saterdag teen Bayern Munich vir ‘n plek onder die laaste vier.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 24-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-575-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-293-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, Tshwane se Toerismevereniging het ʼn nuwe kunsmatige intelligensie-gedrewe WhatsApp-geselsbot bekendgestel om kontak met gaste te bevorder en kommunikasie in die gasvryheidsbedryf te vereenvoudig. Voorsitter Susan Marais beskryf dit as ʼn vriendelike, 24/7-platform om gaste se ervarings te verbeter. Planne sluit in om volgende jaar township-toerisme uit te brei, ʼn erfenisroete bekend te stel, vervoerskakels te bevorder en veiligheid te verbeter. Die vereniging het ook die 25ste amptelike Tshwane-gids bekendgestel terwyl die komende Toerisme-toekennings om uitnemendheid in die bedryf te vier, op 16 Augustus plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….