Nuus 12:00
BULLETIN 25 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SA Vloot se duikbote is buite werking
# TLU SA sê bek-en-klouseer is buite beheer in Suid-Afrika
# En Iran stel drie mans tereg weens beweerde spioenasie vir Israel
# Die Suid-Afrikaanse Vloot se verdedigingsvermoë verkeer glo in ‘n krisis met sleutel-fregatte en -duikbote wat buite werking is en kritieke handelsroetes blootstel aan moontlike gevare. ‘n Ondersoek van News24 het onthul dat die Vloot se vaartuie wat skeepsroetes en gebiedswaters moet beskerm, nie in bedryf is nie weens onderhoudsvertragings en begrotingstekorte. Kenners waarsku dit verswak Suid-Afrika se vermoë om sy kuslyn te bewaak, wat belangrike hawens en maritieme handelsroetes kwesbaar maak. Die Vloot se agteruitgang wek kommer oor nasionale veiligheid en die ekonomie.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê bek-en-klouseer is buite beheer in Suid-Afrika en die regering moet hulpbronne ontplooi om die uitbreking te bekamp. Die organisasie sê hoewel daar in sekere provinsies met inentings begin is, word nuwe gevalle steeds op sommige plase aangemeld. Bennie van Zyl van TLU SA sê dis noodsaaklik dat streng biosekerheidsmaatreëls afgedwing word op plase waar die siekte voorkom:
# Die vakbond Giwusa sê die verlies van 74-duisend werksgeleenthede in die eerste kwartaal van vanjaar ontbloot die algehele bankrotskap van die regering van nasionale eenheid se neo-liberale agenda. Nywerhede soos handel, gemeenskapsdienste en mynbou is die swaarste getref. Twee-en-vyftig-duisend werksgeleenthede het in die handelsektor verlore gegaan, wat 70-persent van werkverliese uitmaak. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê dis ‘n verergerende krisis wat dringende ingryping vereis:
Nuus uit die buiteland:
# Iran het drie mans tereggestel weens beweerde samewerking met Israel se spioenasie-agentskap, Mossad. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle toerusting vir ‘n beplande sluipmoord na Iran gesmokkel het. Die mans is tereggestel in Urmia in die noordweste, naby die Turkse grens. Iran het ook 700 mense in hegtenis geneem wat na bewering tydens die konflik van 12 dae kontak met Israel gehad het. Daar is ook beslag gelê op tien-duisend hommeltuie. Dit lyk intussen of die skietstaking tussen Iran en Israel van krag bly.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het die vaskopstut Asenathi Ntlabakanye se toewyding geloof, wat tot sy insluiting in die nasionale span gelei het. Die 26-jarige Ntlabakanye is een van vier nuwe spelers in die Bok-groep wat die Barbarians Saterdag in Kaapstad pak. Sy ontwikkeling het intensiewe oefeninge ingesluit op die skrumafrigter, Daan Human, se plaas naby Bloemfontein, waar hy op kondisionering en tegniese skrumwerk gefokus het. Erasmus sê Ntlabakanye se toewyding het ‘n dramatiese fisieke verandering meegebring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-585-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-327-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….