Nuus 12:00
BULLETIN 23 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola en Zambië se president bespreek die repatriasie van oudpresident Lungu se oorskot
# Saftu se uitvoerende komitee besluit om aan die Nasionale Dialoog deel te neem
# En Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies waarsku Iran teen wraakaanvalle
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het met Zambië se president, Hakainde Hichilema, vergader om die netelige situasie oor die repatriasie van oudpresident Edgar Lungu se oorskot te bespreek. Die 68-jarige Lungu is die vyfde van die maand in ‘n Pretoriase hospitaal dood, maar nog nie begrawe nie weens ʼn geskil tussen sy familie en die Zambiese regering. Lamola se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die regering sal die sensitiewe saak met die grootste waardigheid hanteer:
# Die spesiale nasionale uitvoerende komitee van die vakbondfederasie SAFTU het besluit om krities en teësinnig aan die Nasionale Dialoog deel te neem. Hy sê dis gegrond op ‘n duidelik gedefinieerde klasperspektief en ‘n onwrikbare toewyding aan die werkersklas-saak. Die dialoog is daarop gemik om die land se dringende kwessies aan te pak, insluitend werkloosheid, swak regering, armoede en honger, en geslagsgeweld. SAFTU sê hulle sal verseker dat die dialoog nie deur tegnokrate, kapitaal- en politieke elites oorgeneem en beheer word nie.
# Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Dorothy Shea, waarsku dat enige Iranse aanval op Amerikaanse burgers of basisse verwoestende gevolge sal ontlok. Die spanning in die Midde-Ooste het die naweek skerp toegeneem nadat Amerika drie Iranse kernaanlegte aangeval het. Shea het aan die VN se Veiligheidsraad gesê die Iranse regering is die afgelope 40 jaar ʼn volgehoue bedreiging vir die vrede en sekerheid van sy bure, Amerika en die hele wêreld:
# Gholf: Die Amerikaner Keegan Bradley reken hy speel tans die beste gholf van sy loopbaan. Die kaptein van die Amerikaanse Ryder-bekerspan het die Travellers-kampioenskap met 15 onder baansyfer gewen. Tommy Fleetwood van Engeland en die Amerikaner Russell Henley was saam tweede op 14 onder, gevolg deur die Australiër Jason Day en Harris English van Amerika op 13 onder. Bradley sê daar word nog besluit of hy ‘n spelende kaptein gaan wees op Bethpage:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-en-26-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-43-sent per vat.
# En laastens, Universal se nuwe weergawe van How to Train Your Dragon is die tweede naweek nommer een op die Noord-Amerikaanse loket. Sony se zombie-riller, 28 Years Later, met Jodie Comer en Ralph Fiennes in die hoofrolle, het sy buiging op nommer twee gemaak met Disney en Pixar se inter-galaktiese avontuurfliek, Elio, in die derde plek. Die Disney-fliek Lilo and Stitch is vierde in sy vyfde naweek terwyl A24 se romantiese komedie, Materialists, die top-vyf voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….