Nuus 12:00
BULLETIN 20 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank waarsku geopolitieke spanning bedreig finansiële bestendigheid
# Drie eiendomme van die voortvlugtige Gupta-familie word opgeveil
# En tien ernstig bedreigde swartrenosters is uit Suid-Afrika hervestig in Mosambiek
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank waarsku toenemende geopolitieke spanning en wêreldwye beleidsonsekerheid hou groot gevaar in vir die land se finansiële sektor. Die bank sê in sy Finansiële Bestendigheidsverslag handelsgeskille en konflik soos dié tussen Israel en Iran plaas druk op die olieprys en maak beleggers versigtig. Volgens die verslag verhoog dit die risiko van kapitale uitvloei en hoër leningskoste vir die staat. Die sentrale bank het ook sy eerste klimaatsrisiko-toets voltooi en bevind groot banke is matig voorberei.
# Drie eiendomme wat aan die Gupta-familie behoort, insluitend die omstrede Saxonwold-kompleks in Johannesburg, word volgende maand opgeveil. Die eiendomme is van ‘n Gupta-maatskappy wat onder sakeredding is, Confident Concept. Bieërs sal groot deposito’s van tussen 250-duisend-rand en 500-duisend-rand moet betaal. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag aangedui het hy sal nog ‘n aansoek indien vir die Gupta-broers se uitlewering. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle met politieke hooggeplaastes in Suid-Afrika saamgesweer het om staatsfondse te plunder.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta het die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, gevra om die nuut uitgereikte riglyne rondom die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette te verduidelik. Die onderwysersvakbond SADOU sê die riglyne is nie wettig bindend nie, en Gwarube het dit volgens berigte bevestig. Makaneta waarsku ‘n gebrek aan duidelikheid veroorsaak verwarring tussen skole en onderwysers. Hy versoek dringende, inklusiewe raadpleging om bestendigheid en vertroue in die leierskap van onderwys te verseker:
# Tien ernstig bedreigde swartrenosters is dié week suksesvol uit Suid-Afrika hervestig in die Zinave Nasionale Park in Mosambiek. Die vyf bulle en vyf koeie is geskenk deur Ezemvelo KZN Wildlife in samewerking met Mosambiek se Nasionale Administrasie vir Bewaringsgebiede en die Vredesparke-stigting. Antony Alexander van die stigting sê die hervestiging is gedoen om die eerste swartrenoster-bevolking te vestig sedert die diere vyf dekades gelede in Zinave uitgesterf het:
# Olimpiese Spele: Kirsty Coventry, wat Maandag oorneem as president van die Internasionale Olimpiese Komitee, sê sy beskou samewerking met belanghebbendes as die belangrikste deel van haar ampstermyn. Die voormalige swemkampioen van Zimbabwe is in Maart verkies om Thomas Bach van Duitsland op te volg. Die 41-jarige is die IOK se eerste vroulike president. Coventry sê dis belangrik om na almal se menings te luister, maar sy verstaan sy moet besluite neem en verantwoordelikheid aanvaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-421-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….