Nuus 12:00
BULLETIN 19 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis antwoorde oor die uitsluiting van geslagsgeweldsyfers in die jongste misdaadstatistieke
# Die polisie soek na ‘n vrou wat op Facebook voorgee sy is ‘n polisie-offisier
# En die Israelse Weermag word beveel om aanvalle op strategiese teikens in Iran te verskerp
# Die DA eis aanspreeklikheid oor die uitsluiting van syfers oor geslagsgeweld en misdade teen kinders in die polisie se jongste misdaadstatistieke. Lisa Schickerling van die party sê in ‘n land waar ‘n vrou elke drie uur vermoor word, is die weglating nie net ‘n statistiese gaping nie, maar ‘n morele mislukking. Sy sê die Polisiediens kan nie beweer dat hy geslagsgeweld en misdade teen kinders beveg wanneer hy dit nie eens tel nie:
Die polisie soek intussen na ‘n vrou wat die Facebook-profielnaam Khosi Thomson gebruik en voorgee dat sy ‘n polisie-offisier is. Sy plaas foto’s van haar in ‘n polisie-uniform met die naamplaatjie “Kaptein Thomson”. Woordvoerder Athlenda Mathe sê voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat sy nie ‘n lid van die Polisiediens is nie en dat sy ‘n buitelandse burger is:
# Die Israelse Weermag is beveel om aanvalle op strategiese teikens in Iran te verskerp. Dit volg nadat Iran vandag sy jongste vlaag van ongeveer 30 ballistiese missiele op Israel afgevuur het. ‘n Hospitaal in Berseba is getref, wat meer as 60 mense beseer het. Israel se minister van Verdediging, Israel Katz, sê die doelbewuste aanvalle op hospitale en wooneenhede is die ernstigste vorm van oorlogsmisdade. Hy sê die IDF se verskerpte aanvalle is daarop gerig om die Ajatollah-regime te ontwrig.
# Tennis: Die Amerikaanse Ope stel vanjaar ‘n nuwe formaat bekend vir die gemengde dubbelspel en ‘n hele aantal groot name het hulle reeds daartoe verbind. Dit sal oor twee dae plaasvind voor die hooftoernooi op 24 Augustus begin. Die organiseerders hoop dit sal meer hoëprofiel-enkelspelers lok. Onder die inskrywings wat reeds ontvang is, is die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, wat saam met die Brit Emma Raducanu gaan speel, die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, en Novak Djokovic van Serwië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-906-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-366-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Australië gaan reëls ophef wat alle seksueel-aktiewe gay en biseksuele mans verbied om bloed en plasma te skenk. Die reëls is oorspronklik ingestel om die gevaar van bloedskenkings vanaf groepe met ‘n hoër MIV-blootstellingskans te verminder. Australië sal dan die eerste land wees om alle beperkings weens seksuele bedrywighede op plasmaskenking te verwyder. Mense in ‘n seksuele verhouding van ses maande of langer met een persoon sal mag bloed skenk, ongeag hul geslag of voorkeure. Die nuwe reëls sal potensiële skenkers tot 625-duisend mense uitbrei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….