Nuus 12:00
BULLETIN 18 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sê die regering kon in sy eerste jaar nie daarin slaag om misdaad te bekamp nie
# Israel val Iran se missielvervaardigings-aanlegte aan
# En motorsport: Kanada gaan tot minstens 2035 ‘n Formule Een Grand Prix aanbied
# Build One South Africa sê die regering van nasionale eenheid kon in sy eerste bestaansjaar nie die epidemie van geweldsmisdaad stuit nie. Die party sê met meer as 80 moorde en 135 verkragtings wat daagliks aangemeld word, bly Suid-Afrika een van die gevaarlikste lande ter wêreld. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê die onlangse verhogings in polisiebegrotings het nie ‘n verbetering teweeg gebring in misdaadopsporing, die oplossing van sake of lede se welstand nie:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, steun nuwe regulasies wat staatsdepartemente toelaat om die Staatsinligtingstegnologie-agentskap te omseil wanneer dit kom by die verkryging van IT-dienste. Die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, het die nuwe reëls verlede maand bekendgestel. Kubayi het aan die Parlement gesê die agentskap is die departement se swakste skakel, wat tot powere diens bydra en digitale vooruitgang belemmer. Sy voer aan dat dit die verskuiwing na alternatiewe tegnologie-oplossings regverdig.
# Die regering moedig jongmense aan om hulle eie ondernemings te begin en sê entrepreneurskap is een van die beste maniere om ‘n beter toekoms te bou. Projekte soos die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap se toelaagprogram en Jeuguitdagingsfonds wil swart ondernemings en voorheen benadeelde groepe help. Die regering se woordvoerder, Mfundo Nkosi, sê meer word gedoen om werk en entrepreneurskap vir jongmense te skep:
# Die Israelse Weermag sê hy het oornag ‘n nuwe vlaag aanvalle uitgevoer op Iran se uraanproduksie- en missielvervaardigingsaanlegte. Van die geriewe wat geteiken is, is ‘n monteeraanleg vir die vervaardiging van grond-tot-lugmissiele, ‘n uraanverrykings-aanleg en ‘n opleidingsinstelling wat met die Revolusionêre Wagte verbind word. Die Israelse Weermag sê hy is vas oortuig dat die Iranse regime uraan verryk vir die ontwikkeling van kernwapens.
# Motorsport: Kanada gaan ‘n Formule Een Grand Prix aanbied tot minstens 2035. Dit volg nadat die sport ‘n verlenging onderteken het met Kanada en Quebec vir ‘n wedren in Montreal, wat sy eerste Grand Prix in 1978 gehou het. Die wedren was in gedrang nadat F1 se uitvoerende hoof, Stefano Dominicali, verlede jaar ‘n streng waarskuwing uitgereik het na klagtes oor organisering en logistiek. Sondag het alles seepglad verloop en die ooreenkoms, wat tot 2031 sou duur, is met nog vier jaar verleng.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-137-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-386-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 75-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….