Nuus 12:00
BULLETIN 16 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF eis antwoorde oor die bestuurskrisis in die Openbare Beleggingskorporasie
# Die VN-hoof vra ‘n afname in spanning, dialoog en diplomasie te midde van hernude vyandelikhede tussen Amerika en Iran
# En die regering vra Suid-Afrikaners om Mandela-maand met dienslewering te gedenk
# Die EFF het die voorsitter van die Parlement se staande komitee oor Finansies, Joseph Maswangwanyi, gevra vir ‘n dringende vergadering oor die bestuurskrisis in die Openbare Beleggingskorporasie. Uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, is voorlopig geskors ná ‘n verklikker se bewerings van onbehoorlikheid, terwyl twee raadslede bedank het. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het intussen ‘n ondersoek na die OBK begin weens kommer oor bestuur en leierskapsbestendigheid. Die EFF sê hierdie vlak van onbestendigheid in die leierskap van die land se grootste batebestuurder moet aandag kry.
# Die African Transformation Movement sê president Cyril Ramaphosa se Hooggeregshof-aansoek om ‘n interdik teen die Artikel 89-ampsklagproses, voldoen nie aan die regsdrempel om onherstelbare skade te bewys nie. Hy wil hê die Parlement moet sy ampsklagprosedure staak tot die hof die verslag oor Phala Phala hersien het. ATM se leier, Vuyolwethu Zungula, sê dis duidelik dat Ramaphosa aanspreeklikheid probeer vermy:
Nuus uit die buiteland:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, is bekommerd oor die voortgesette militêre spanning in die Midde-Ooste. Die Amerikaanse Weermag het gister weer aanvalle op Iran uitgevoer om sy vermoë te beperk om skepe in die Seestraat van Hormoes te teiken. Iran het intussen Amerikaanse militêre teikens in Bahrein en Koeweit aangeval. VN-woordvoerder Stéphane Dujarric sê alle kante moet navigasieregte en -vryhede respekteer in ooreenstemming met internasionale reg:
# Swem: Die Australiese Olimpiese kampioen Mollie O’Callaghan het aangekondig sy is verlede maand aangesê om onmiddellik op te hou swem weens ruggraatstresfrakture, maar mag aan volgende week se Statebondspele deelneem. Die heersende Olimpiese kampioen in die 200 meter-vryslag, sê skanderings het stresfrakture in die onderste deel van haar ruggraat getoon, waarna haar span die raad van ‘n ruggraatspesialis ingewin het. O’Callaghan het ingeskryf vir drie individuele items in Glasgow, asook verskeie vroue- en gemengde aflosse, maar gesinspeel haar skedule kan dalk verander.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-34-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-59-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-32-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 83-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die regering moedig Suid-Afrikaners aan om in Mandela-maand deel te neem aan bedrywighede en hulp te verleen waar nodig. Mense kry kans om die lewe en nalatenskap van die ontslape oudpresident te gedenk deur diens aan ander en sterker gemeenskappe te bou wat meer vir mekaar omgee. Regeringswoordvoerder Nomonde Mnukwa sê landsburgers moet deur die jaar ingestel wees op goedhartigheid, dienslewering en aktiewe burgerskap:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….