Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# NSFAS ontvang meer as ‘n miljoen aansoeke
# Druk vir ‘n alternatiewe noodlyn om die SAPD se 10111-inbelsentrums by te staan
# En, rugby: Die Poskantoor stel nuwe seëls bekend van die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente het 1,4-miljoen aansoeke vir hierdie akademiese jaar ontvang. Die skema verwag nog sowat ‘n miljoen aansoeke voor die aansoek-siklus op die 31ste van die maand sluit. Die skema se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê alle aansoekers moet ‘n toestemmingsvorm invul om toepaslike inligting van derde partye na te gaan. Hy sê dit sluit die werkstatus en inkomstevlak van die aansoeker se ouers, voogde of eggenote in:
# Crisis On Call vra ‘n dringende oplossing vir die krisis by die polisie se 10111-inbelsentrums. Die sentrums ontvang meer as 10-duisend oproepe per dag terwyl hulle ‘n personeeltekort en ander uitdagings ondervind wat gelei het tot ‘n menigte klagtes, oor oproepe wat gesny word óf heeltemal onbeantwoord gelaat word. Ruan Vermaak van Crisis On Call stel ‘n alternatiewe blitslyn voor om met die werklading te help:
# Die eerste minster van Israel, Benjamin Netanyahu, is steeds gekant teen die skepping van ‘n Palestynse staat as deel van ‘n na-oorlogse scenario en sê dit sal sy land se veiligheid in gedrang bring. Die VSA en Australië hou vol dat ‘n tweestaatoplossing die enigste haalbare plan vir blywende vrede in die gebied is. Netanyahu sê Israel móét beheer hê oor die veiligheid van die hele streek wes van die Jordaanrivier, wat die grondgebied van enige moontlike Palestynse staat insluit. Die Withuis het in reaksie gesê die Amerikaanse regering sal nie ophou om hom vir ‘n tweestaatoplossing te beywer nie.
# Rugby: Die Suid-Afrikaanse Poskantoor herdenk die Springbokke as wêreldkampioen van 2023 met ‘n spesiale stel internasionale en standaard-posseëls. Die standaard-seël beeld ‘n rugbyveld uit met ‘n goue rugbybal gestel vir ‘n strafskop. Die internasionale seël wys ‘n goue rugbybal omring met ‘n tipografiese ontwerp met die woorde World Champions 2023 en die datums van die Bokke se vorige drie oorwinnings. Die Poskantoor beklemtoon die waarde van die seëls vir versamelaars én gebruikers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 41-duisend-167-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-26-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-9-sent per vat.
# Ten slotte: Suid-Afrika word beskou as die land met die toegeeflikste padreëls onder 17 lande wêreldwyd. ʼn Studie deur Compare the Market Australia het bepaal hoeveel ruimte bestuurders gegun word voor hulle die wet oortree, ʼn ontleding van maatstawwe, insluitend bloedalkoholperke, spoedbeperkings, selfoonbeperkings, en vereistes ten opsigte van veiligheidsgordels. Noorweë is die strengste land met ʼn telling van 7,09 uit 10 terwyl Suid-Afrika 3,13 uit 10 behaal het weens die hoër snelheidsperke vir deurpaaie en ondanks lae bloed/alkohol-konsentrasievlakke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….