Nuus 12:00
BULLETIN 13 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering monitor die nuwe Covid-19-variant in dele van Asië
# Iran sê Israel en Amerika gaan betaal vir die aanvalle op sy kernaanlegte
# En motorsport: Verstappen kan vir ‘n wedren geskors word as hy dié maand nog ‘n strafpunt kry
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering monitor die ontwikkeling van ‘n nuwe Covid-19-variant, Nimbus, wat in dele van Asië aangemeld is. Sy verseker die publiek hoewel dit nie in Suid-Afrika opgespoor is nie, bly die Departement van Gesondheid waaksaam. Ntshavheni het die publiek versoek om kalm te bly, maar versigtig te wees en basiese gesondheidsmaatreëls toe te pas:
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Thanda Sithole, sê korttermyn-mynboubedrywighede bly onder druk oor volgehoue onsekerheid terwyl groei wêreldwyd steeds traag is. Volgens Statistieke Suid-Afrika het die land se mynbouproduksie in April met 7,7-persent gedaal in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, wat die sesde agtereenvolgende maand van inkrimping aandui. Sithole sê die mediumtermyn-vooruitsigte moet ondersteun word deur voortgesette infrastruktuurhervormings, veral in energie en logistiek:
# Iran se Weermag waarsku dat Israel en Amerika gaan betaal vir die aanvalle op sy kernaanlegte. Dit was deel van Israel se Operasie Rising Lion waarin die personeelhoof van Iran se Weermag, Mohammad Bagheri, en die leier van die paramilitêre Revolusionêre Wag, Hossein Salami, dood is. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê sy land was nie betrokke nie, maar Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê sulke aggressiewe optrede kon nie sonder koördinering en goedkeuring van Amerika plaasvind nie.
# Motorsport: Red Bull se Formule Een-kampioen, Max Verstaan, moet waak teen nog strafpunte in die volgende twee Grand Prix-wedrenne in Kanada en Oostenryk. Hy is met 10-sekondes gestraf na die vorige wedren in Spanje nadat hy teen George Russell se Mercedes gebots het, wat gelei het tot nog drie strafpunte op sy F1-superlisensie. Dit het sy totaal tot 11 opgeskuif vir die 12-maande wat op 30 Junie verstryk. Nog een strafpunt sal lei tot ‘n outomatiese skorsing van een wedren.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-224-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-423-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-93-sent per vat.
# En laastens, die Konstitusionele Hof in Johannesburg, onder leiding van hoofregter Mandisa Maya, sal volgende Vrydag ‘n seremonie aanbied om 30 jaar te herdenk sedert wyle oudpresident Nelson Mandela dit in 1995 geopen het. Die geleentheid vier Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie en die vordering daarvan sedert die aanbreek van die demokratiese bestel. President Cyril Ramaphosa en internasionale ampsdraers soos verteenwoordigers van regsinstellings word verwag by die geleentheid wat die hof se rol in die handhawing van die Grondwet beklemtoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….