Nuus 12:00
BULLETIN 12 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die SOE bevries eiendom in Limpopo as deel van sy ondersoek na die Loterykommissie
# RISE Mzansi sê skorsings in die polisie het in die 2023/24-boekjaar meer as agt-miljoen-rand gekos
# En sokker: Mexico haas om ‘n verouderde stadion betyds op te gradeer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal verkry om onroerende eiendom in Limpopo te bevries wat verbind word met sy ondersoek na die Nasionale Loterykommissie. Die bevriesing van Gedeelte 15 van die plaas Zandrivierspoort word verbind met die wanbesteding van geld wat bedoel was vir die bou van ouetehuise. Die SOE sê hy fokus op drie organisasies sonder winsbejag wat saam meer as 66-miljoen-rand ontvang het onder valse voorwendsels. Daar is bevind die ontbinde Matieni-gemeenskapsentrum is bedrieglik laat herleef om vir befondsing aansoek te doen.
# RISE Mzansi sê Suid-Afrika benodig ‘n deugsame en doeltreffende polisiediens wat gelei en beman word deur etiese en gekwalifiseerde beroepslui. Honderd-63 polisielede was gedurende die 2023/24-boekjaar geskors vir ‘n verskeidenheid ernstige oortredings soos roof, korrupsie, afpersing, seksuele teistering en ontvoering. Makashule Gana van RISE Mzansi sê hierdie skorsings het ‘n finansiële las van meer as 8,2-miljoen-rand op die polisie se begroting geplaas:
# Die Stad Kaapstad het 922 eiendomme as probleemgeboue op ‘n lys geplaas waarvan 35-persent ondersoek word. Dit sluit in nuwe gevalle, aanbevole sluitings en afgeslote sake wat vir twee jaar gemonitor word. Die Eenheid vir Probleemgeboue se taak is om voldoening aan die ordonnansie van 2020 af te dwing wat probleemgeboue omskryf volgens wetlike, veiligheids-, gesondheids- of onderhoudskwessies. Uitdagings sluit in onopspoorbare eienaars en onafgehandelde bestorwe boedels.
In die noorde sê die Stad Johannesburg sy unieke Slimstad-uitdaging bemagtig inwoners om argitekte van hulle stedelike toekoms te word. Inwoners, kleinsake-eienaars, studente en stadswerknemers word jaarliks uitgenooi om hul baanbreker-idees in te dien om Johannesburg se dringendste uitdagings teen te werk. Dit strek van verkeersopeenhopings en afvalbestuur tot behuising en digitale insluiting. Die metro se woordvoerder, Virgil James, sê die tasbare uitwerking van hierdie veldtog word reeds gevoel:
# Sokker: Die mede-gasheer, Mexiko, is gewikkel in ‘n wedloop teen tyd om die ikoniese Azteca-stadion op te gradeer voor die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi. Mexiko sal die eerste land wees wat die internasionale skouspel vir ‘n derde keer aanbied wanneer die toernooi op 11 Junie volgende jaar begin. Die stadion in die hoofstad, Mexikostad, word vergroot van 87- na 90-duisend sitplekke, en die opgraderings wat fokus op die wêreldbeheerliggaam Fifa se voorskrifte, sluit ook nuwe kleedkamers en groter gasvryheidsones in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-824-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-356-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….