Nuus 12:00
BULLETIN 11 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Skoolbus word in die Oos-Kaap herwin nadat dit meegesleur is gedurende oorstromings
# Ramaphosa vra waaksaamheid tydens die erge wintertoestande
# En die Wes-Kaap se damvlakke is gemiddeld weer bo 60-persent
# Reddingspanne in Mthatha in die Oos-Kaap het die skoolbus herwin wat deur vloedwater in die Dikolini-rivier meegesleur is. Daar was 13 leerders, nog twee ander passassiers en die bestuurder in die voertuig. Geen liggame is binne-in gevind nie. Drie leerders is gister gered. Owerhede sê die soektog na die ander insittendes duur voort, en voeg by dat spanne ook oorstroomde huise sal deursoek om enige liggame te herwin wat tydens die vloede vasgekeer is.
President Cyril Ramaphosa sê intussen die verwoesting wat natuurkragte bring, vereis dat almal saamwerk om verligting te bring aan gesinne en gemeenskappe wat dit die nodigste het. Dit volg op die oorstromings in die Oos-Kaap waar nege mense verdrink het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê nasionale, provinsiale en munisipale regerings, asook die Nasionale Rampbestuursentrum, skenk die nodige aandag aan elke krisis wat opduik. Hy waarsku ook mense om uiters versigtig te wees op paaie:
# Die gemiddelde vlak van ses belangrike damme in die Wes-Kaap is weer terug bo 60-persent. Die gesamentlike vlak staan nou op 63,2-persent teenoor verlede week se 60,3-persent. Die grootste dam, Theewaterskloof, staan op 62,1-persent en Voëlvlei op 58,2-persent. Swaar reënval het die vlakke van al ses damme laat styg. Die Stad Kaapstad glo al is die damvlakke effens laer as ‘n jaar gelede, is die verhoging betekenisvol aan die begin van die winter.
# Die Europese Unie het sy 18de sanksiepakket teen Rusland bekendgemaak, gemik teen die Kremlin se vermoë om geld te maak uit olie- en gasproduksie. Dit sluit ʼn verbod in op die gebruik van die Nord Stream-pypleiding om gas tussen Rusland en Duitsland te vervoer en die verlaging van die prysplafon op Russiese olie-uitvoere. Die pakket moet nog deur die EU se 27 lidlande goedgekeur word. Die Europese Kommissie se president, Ursula von der Leyen, sê hulle soek vrede in Oekraïne:
# Sokker: Borussia Dortmund het Sunderland se 19-jarige Engelse middelveldspeler, Jobe Bellingham, tot 2030 gekontrakteer – vyf jaar nadat sy ouer broer, Jude, by die klub aangesluit het. Dortmund het volgens berigte ‘n bedrag van ongeveer 667-miljoen-rand betaal om sy dienste te verseker, die grootste voorbetaling wat die klub nog ooit vir ‘n speler betaal het. Bellingham sê hy is bly dat hy die swart en geel hemp van die klub sal kan dra in die Klub-Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-562-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-344-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….