Nuus 12:00
BULLETIN 9 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê hervorming is nie ‘n guns nie, maar ‘n noodsaaklikheid
# NUMSA onderteken ‘n verhoging van bo inflasie in die plastiekbedryf
# En die Oos-Kaap kry sy eerste sneeu van die winter
# President Cyril Ramaphosa sê die regering herbevestig swart bemagtiging is nie slegs ‘n beleidskeuse nie, maar ‘n grondwetlike plig. Vanjaar is die 70ste herdenking van die Vryheidsmanifes. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die vals idee dat ‘n keuse gemaak moet word tussen groei en transformasie, en dat swart bemagtiging die ekonomie geld kos, moet reggestel word. Ramaphosa sê transformasie is nie ‘n guns nie, maar noodsaaklik. Hy voeg by die taak is om te verseker dat groei en transformasie saam nagevolg word.
# Die hoofsekretaris van die metaalwerkersvakbond Numsa, Irvin Jim, verwelkom die ondertekening van ‘n verhoging van bo inflasie van 2,8-persent as deel van die plastiekbedryf se hoof kollektiewe bedingingsooreenkoms. Die sektor verteenwoordig sowat 34-duisend werkers landwyd en is ‘n subsektor van die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf. Jim sê die ooreenkoms wat op 30 Junie 2028 verstryk, is in die beste belang van werkers.
# Die Oos-Kaapse Departement Vervoer maan padgebruikers om versigtig te wees op die paaie aangesien die provinsie koue reënweer met sneeu ervaar. Die provinsie het ‘n 80 persent-kans op reën. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê sneeu het op Wapadsbergpas op die R61 tussen Nxuba en Graaff-Reinet geval, en hulle hou ook ander bergpasse fyn dop:
# Krieket: Die Proteas se aanvangskolwer, Aiden Markram, sê hulle is vol vertroue in aanloop tot die eindstryd van die Wêreld-toetskampioenskap teen die huidige kampioen, Australië, wat Woensdag op Lord’s begin, al het Suid-Afrika ses maande laas ‘n toets gespeel. Markram sê hulle weet hoe belangrik dit is om goed te begin en vroeg in die wedstryd ʼn voorsprong te kry. Hy voeg by elke skof gaan belangrik wees:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-577-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-95-sent per vat.
# En laastens, Kongolese vlugtelingkinders wat skole in Maitland en Parow in Kaapstad bywoon, word voortudrend afgeknou, wat gewortel is in xenofobie, rassisme en kulturele verskille. Dit is volgens ‘n studie deur die Universiteit van die Wes-Kaap se meestersgraadstudent, Adelina Nakatya Ntagerwa. Twintig ouers van tienerjarige vlugtelinge uit die oorloggeteisterde Kivu-provinsie van die Demokratiese Republiek die Kongo is ondervra. Die kaptein van UWK se Varsity-skild-rugbyspan, Romauld Nsombamanya, wat in die DRK gebore is, beskryf sy laerskoolervaring as intens:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….