Nuus 12:00
BULLETIN 6 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra vir die afdanking van die NVG-hoof Shamila Batohi
# Die DA beweer grondbesetters en vee neem 10 SANW-basisse oor
# En, rugby: Die Haaie speel met ‘n nuwe slotpaar in die VRK-halfeindstryd teen die Bulle
# ActionSA vra dat die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, afgedank en ‘n volledige parlementêre ondersoek na die Nasionale Vervolgingsgesag se mislukte vervolgings ingestel word. Die party sê die NVG se diepliggende wanfunksionering is weer ontbloot met die onwettige en onregmatige hantering van die uitlewering van Moroadi Cholota, Ace Magashule se gewese assistent. Matthew George van ActionSA sê onder Batohi se leierskap struikel die NVG van een skandaal na die volgende:
# Die DA sê ten minste tien Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagbasisse in Gauteng, die Wes-Kaap en die Noord-Kaap is deur onwettige grondbesetters oorgeneem. Die party beweer dat informele nedersettings en veekrale op militêre grond opgerig is, insluitend by die Marievale-basis in Gauteng, waar koeie en bokke aangehou word. Maliyakhe Shelembe van die DA doen ‘n beroep op die minister van Verdediging, Angie Motshekga, om dringend op te tree aangesien dit nasionale sekerheid en militêre aktiwiteite bedreig.
# Die Internasionale Energie-agentskap sê wêreldwye belegging in energie gaan vanjaar tot ʼn rekordbedrag van 59-duisend-miljard-rand styg te midde van ekonomiese onsekerheid en kommer oor energiesekerheid. Hernubare bronne, kernkrag, kragnetwerke, energieberging, laekoolstof-brandstof en energiedoeltreffendheid sal die grootste beleggingsareas wees, terwyl beleggings in olie, aardgas en steenkool waarskynlik sal afneem. Die agentskap sê China bly die leier in beleggings in skoon energie terwyl Amerika na verwagting sal stabiliseer weens ʼn daling in regeringsondersteuning.
# Rugby: Die Haaie draf môre op die veld sonder hulle twee kragreuse, Eben Etzebeth en Jason Jenkins wat albei beseer is. Dit beteken hulle speel hulle halfeindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap in Pretoria met Corné Rahl en Emile van Heerden as slotpaar. Die kaptein van die Haaie, Siya Kolisi, sê hulle verwag ‘n taai wedstryd. Hy sê hulle doel is om die soort rugby te spel wat hulle weet hulle in staat is om te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-475-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-363-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-85-sent per vat.
# En laastens, drie Kaapstadse restaurante het die 2025-lys van die wêreld se 100 beste restaurante gehaal. Die lys word deur S.Pellegrino en Acqua Panna geborg en bevat van die mees gesogte eetplekke in die wêreld. La Colombe by die Silvermist-wynlandgoed wat die sesde keer op die lys verskyn, is nommer 55. FYN in Kaapstad se middestad maak sy vyfde verskyning op nommer 82, en Salsify by die Roundhouse in Kampsbaai maak sy eerste verskyning in die 88ste plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….