Nuus 12:00
BULLETIN 5 June 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê meer as vyf-duisend-700 grondeise is steeds onafgehandel
# Vleisinvoerders vra vir toegang tot veilige pluimvee-markte buite Brasilië
# En, Tanzanië blok toegang tot X oor pornografiese inhoud
# Die DA sê die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het versuim om bestaande eise te verwerk, ondanks die feit dat hulle die wetlike raamwerk, tyd en befondsing gehad het om dit te doen. Tot op hede is meer as 52-miljard-rand aan grondteruggawes bestee. Sonja Boshoff van die DA sê meer as vyfduisend-700 grondeise wat voor die oorspronklike 1998-spertyd ingedien is, bly onopgelos, en provinsies soos KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga het die grootste agterstande:
# Die Vereniging van Vleis- in- en -uitvoerders doen ‘n beroep op die regering om pluimvee-invoere te heropen uit lande wat vry van voëlgriep verklaar is. Dit sluit Frankryk, Swede, Denemarke en België in. Invoere uit Brasilië bly opgeskort weens ‘n uitbreking in Rio Grande do Sul, maar ‘n gedeeltelike opheffing van die verbod word binnekort verwag. Die uitvoerende hoof van die vereniging, Imameleng Mothebe, waarsku dat plaaslike produsente nie ten volle in die vraag kan voorsien nie, veral nie vir produkte soos pluimvee-afval en meganies ontbeende vleis nie:
# Tanzanië het toegang tot die sosiale media platform X geblok oor pornografiese inhoud, twee weke nadat regeringsrekenings gekaap is. X het verlede jaar aangekondig hy sal nie meer “konsensueel vervaardigde en verspreide” volwasse inhoud blokkeer nie. Die minister van Inligting in Tanzanië, Jerry Silaa, het aan ‘n plaaslike TV-stasie gesê hierdie is ‘n weerspreking van die regulasies. Hy sê daar is nou pornografie en homoseksualiteit op X, wat strydig is met sy land se wette, kultuur, gebruike en tradisies.
# Rugby: Die skrumskakel van Munster, Craig Casey, is as Ierland se kaptein vir volgende maand se toer na Georgië en Portugal aangewys. Die groep van 32 spelers sluit elf nuwelinge in. Onder hulle is Alex Kendellen, Darragh Murray en Paddy McCarthy. Nadat hulle nie vir die Britse en Ierse Leeus gekies is nie, is Jack Crowley en Sam Prendergast nou by die span ingesluit. Die tussentydse hoofafrigter, Paul O’Connell, sê hulle het ‘n goeie mengsel van jong en meer ervare spelers in die toerspan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-650-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, sterrekundiges het ‘n massiewe planeet ontdek wat om ‘n piepklein ster wentel, ‘n bisarre verskynsel wat wetenskaplikes verstom. Die meeste van die sterre in die Melkweg is klein rooi dwerge soos TOI-6894, wat slegs 20-persent van die massa van ons son het. Daar is nie gedink dat sulke klein, swak sterre die toestande kon veroorsaak wat nodig is om enorme planete te vorm en aan te lok nie. Maar ‘n internasionale span sterrekundiges het die onmiskenbare eienskappe van ‘n gasreus-planeet opgespoor wat, volgens ‘n studie in die tydskrif Nature Astronomy, om die klein TOI-6894 wentel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….