Nuus 12:00
BULLETIN 2 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê dis belangrik dat kinders beskerm word
# Cosatu verwelkom die regering se optrede oor die indiensneming van buitelandse burgers
# En, die dodetal weens kitsvloede in Nigerië styg tot meer as 150
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het gister tydens ‘n kinderoptog na die Konstitusionele Hof memorandums van kinderbeskermingsorganisasies ontvang. Die land vier tans Kinderbeskermingsbewusmakingsmaand met die tema: Werk saam om geweld teen kinders te beëindig. Kubayi het in haar toespraak ʼn moniteringsprogram van 90 dae bekendgestel om geslagsgeweld en vrouemoord te volg van die oomblik wat dit aangemeld word tot die hof finaal uitspraak lewer:
# Cosatu sê die Arbeidsmigrasiebeleid en die Wysigingswetsontwerp op Werknemersdienste bied ʼn langverwagte reaksie op die vlaag ongedokumenteerde migrante-arbeiders wat die afgelope dekade ingevloei het. Die kabinet het die wetsontwerp verlede week vir voorlegging aan die Parlement saam met die witskrif oor die Nasionale Arbeidsmigrasiebeleid vir instelling goedgekeur. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê dit baan die weg vir strenger regulering van buitelanders in belangrike ekonomiese sektore:
# Minstens 151 mense in sentraal-Nigerië is alreeds dood na kitsvloede wat huise vernietig en duisende inwoners sedert verlede week ontwortel het. Die noodbestuursagentskap van Nigerië, Nsema, het aan die BBC bevestig dat die dodetal skerp gestyg het van 115 nadat vloede die dorp Mokwa getref het. ‘n Woordvoerder van Nsema het gesê dat meer as 500 huishoudings, met meer as drie-duisend mense, is geraak. Sommige gesinne het glo tussen twee en vyf familielede, insluitend kinders, verloor.
# Krieket: Die veelsydige Australiese speler, Glenn Maxwell, het sy onmiddelike uittrede uit internasionale eendagkrieket aangekondig. Die 36-jarige Maxwell, een van die opwindendste kolwers in die geskiedenis van die sport, het in sy 149 wedstryde drieduisend-990 lopies aangeteken, 77 paaltjies geneem en twee Wêreldbeker-titels help wen. Maxwell sal steeds deel bly van Australië se T20-groep om ‘n oorwinning in volgende jaar se kortvorm-Wêreldbeker in Indië en Sri Lanka te help verseker.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-88-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-559-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-352-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-51-sent per vat.
# En laastens, Disney se supertreffer, Lilo and Stitch, is die tweede agtereenvolgende naweek nommer een by kaartjiekantore. Dis die tweede Hollywood-vrystelling naas A Minecraft Movie wat die prestasie in 2025 behaal. Paramount en Skydance se Mission: Impossible – The Final Reckoning met Tom Cruise in die hoofrol is tweede, en Karate Kid: Legends het op nommer drie geopen. Final Destination: Bloodlines is vierde en nog ʼn nuweling, A24 se gruwelfilm, Bring Her Back, is vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….