Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC beskryf die Wes-Kaapse Wetsontwerp op Provinsiale Magte as ‘n terugwaartse stap vir Suid-Afrika
# Die GOOD-party sê Tshwane se onderburgemeester is ‘n paaiery van koalisievennote
# En tennis: Zverev en Świątek veg om die derde ronde van die Australiese Ope te haal
# Die ANC is uiters krities oor die Wes-Kaapse Wetsontwerp op Provinsiale Magte en beskryf dit as ‘n stap terugwaarts vir Suid-Afrika. Die wetsontwerp is in Mei verlede jaar voorgelê en is daarop gemik om sekere funksies na die provinsiale en plaaslike vlak af te wentel, in ʼn poging om skynbare mislukkings van die nasionale regering te oorkom. Die ANC beskou dit as ongrondwetlik en beskuldig die Wes-Kaap daarvan dat hy regse ideologieë aangryp wat herinner aan apartheid. Ondanks twyfel oor die regsaspekte, het die komitee onder leiding van die DA die wetsontwerp deurgevoer tot waar openbare verhore nou kan plaasvind. Die ANC moedig die publiek aan om dit te verwerp en wys op grondwetlike teenstrydighede.
# Die GOOD-party in Tshwane sê die voorgestelde amp van onderburgemeester in die metro is ‘n algehele vermorsing van openbare fondse en het bloot ten doel om koalisievennote gelukkig te hou – ten koste van die inwoners. ActionSA se hoofdirekteur van regering, Nasiphi Moya, is vir dié amp benoem, waaroor Tshwane se raad na verwagting vandag sal stem. Sarah Mabotsa van GOOD sê die inwoners moes al heeltemal te lank die las dra van die DA-geleide koalisie se swak finansiële besluitneming:
# Brandbestryders in die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit in die Wes-Kaap spook om ‘n brand op Paarlberg in die Paarl te blus. Dit volg nadat brandspanne gister brande bokant Kalkbaai en Franschhoek in bedwang gebring het. Die woordvoerder van die munisipaliteit, Jo-Anne Otto, sê die brand op Paarlberg is buite beheer:
# Pakistan het ‘n reeks militêre aanvalle teen militante in Iran uitgevoer, met drie vroue en vier kinders wat volgens berigte dood is. Die aanvalle was glo uit weerwraak vir Dinsdag se aanvalle deur Teheran, waartydens ‘n Soennitiese separatistiese militante groep binne Pakistan se grense geteiken is. Twee mense is in die aanval dood. Pakistan se ministerie van Buitelandse Sake sê hy respekteer Iran se soewereiniteit en gebiedsintegriteit ten volle, maar is vasberade om sy nasionale veiligheid sonder huiwering teen alle bedreigings te beskerm en te verdedig.
# Tennis: Die wêreld-nommer-ses, Alexander Zverev, het die Slowaakse kwalifiseerder Lukas Klein verslaan en voorkom dat hy twee keer na mekaar in die tweede ronde van die Australiese Ope uitgeskakel word. Die Duitser het in vyf stelle gewen. Casper Ruud van Noorweë het die Australiër Max Purcell ook in vyf stelle verslaan. In die vroueafdeling het Iga Świątek verhoed dat sy vroeg uitval toe sy die Amerikaner Danielle Collins na ʼn taai stryd in drie stelle geklop het. Die Poolse speler sê dit was ʼn moeilike wedstryd:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-847-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-10-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….