Nuus 12:00
BULLETIN 30 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# GIWUSA sê die koersverlaging van 25 basispunte is ‘n belediging vir werkers
# Die Wes-Kaapse regering is gekant teen die konsepregulasies vir die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering
# En rugby, drie nuwe spelers sluit aan by Junior Bokke vir die finale oefenkamp voor die Onder-20 kampioenskap
# Die nywerheidsvakbond GIWUSA sê hy is teleurgesteld oor die besluit van die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om rentekoerse met 25 basispunte te verlaag. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, sê dié geringe verlaging is ‘n belediging vir werkers en die armes, wat in skuld verdrink. Hy sê dit bewys die Reserwebank dien finansiers, en nié werkers nie:
# Die Wes-Kaapse regering is gekant teen die nuwe konsepreëls vir die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, wat uiteensit hoe die wet se fonds bestuur sal word. Die regering glo die reëls kan dienslewering en gesondheidstelsels in alle provinsies negatief beïnvloed. Premier Alan Winde ondersteun universele gesondheidsorg, maar glo die huidige reëls is ‘n bedreiging vir die gladde verloop van gesondheidsdienste in die provinsie:
# Die Russiese minister van Buitelandse Sake, Sergei Lavrov, het Israeliese aanvalle op Gaza, as kollektiewe straf van die burgerlike bevolking bestempel, in wat gesien word as van Moskou se hewigste kritiek op Israel. Die Israeliese weermag het onlangs sy offensief verskerp in wat hy noem ‘n hernieude poging om Hamas te vernietig. Lavrov sê wat in Gaza gebeur, is onbegryplik en onbeskryflik. Rusland en Israel het tradisioneel goeie betrekkinge geniet. Byna ‘n vyfde van Israel se bevolking is Russies-sprekend en Moskou het jare lank daarna gestreef om vriendelike verhoudings met alle groot moondhede in die Midde-Ooste te handhaaf.
# Rugby: Drie nuwe spelers is ingesluit in die Junior Springbokke se oefengroep vir die laaste voorbereidingskamp voor Wêreldrugby se Onder-20 Kampioenskap volgende maand in Italië. Losskakel, Ian van der Merwe, haker, Shaun Schürman, en loskopstut, Rambo Kubheka is die nuwe spelers terwyl Jaco Grobbelaar, Arno van der Merwe, Stephanus Linde, Jaco Williams en Alzeadon Felix na die groep terugkeer. Die Junior Bokke sal vir die volgende drie weke in Stellenbosch oefen voordat die groep van 30 spelers op 24 Junie na Italië vertrek.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-197-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-297-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-56-sent per vat..
# En laastens, die 13-jarige Faizan Zaki het agt ander ervare spellers uitgestof en die 2025 Scripps Nasionale Spelkompetisie in Washington, Amerika, gewen. Faizan van Allen, Texas, was verlede jaar die naaswenner nadat hy in ‘n blits-uitklopronde verloor het. Sy wen-woord was éclaircissement. Buiten Faizan, wie se ouers uit die suide van Indië geïmmigreer het, is 30 van die afgelope 36 kampioene sedert Nupur Lala se oorwinning in 1999, van Indiese-Amerikaanse afkoms.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….