Nuus 12:00
BULLETIN 28 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof hoor Ramaphosa se aansoek aan teen die uitspraak wat koning Misuzulu se erkenning nietig verklaar
# Giwusa sê ‘n permanente algemene basiese inkomstetoelaag is nodig
# En Zimbabwiese motoriste moet nou ‘n radiolisensie uitneem voor hulle hulle voertuie mag verseker
# Die Appèlhof hoor vandag president Cyril Ramaphosa se aansoek aan teen die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria waarin die erkenning van koning Misuzulu kaZwelithini as Zoeloe-monarg onwettig verklaar is. Die koning is volgens tradisie in 2022 in die koninklike paleis in Nongoma gekroon. Die beslissing het gevolg ná ‘n regsgeding deur prins Simakade Zulu, wat aangevoer het die benoemingsproses was gebrekkig. Die hof het Ramaphosa ook beveel om ‘n komitee te stig om ondersoek in te stel na die proses.
# Die vakbond Giwusa verwelkom die verlenging van die Maatskaplike Hulpverligtingstoelaag. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het verlede Woensdag in sy begrotingstoespraak aangekondig dat die toelaag van 370-rand tot einde Maart volgende jaar verleng word. Giwusa se president, Mametlwe Sebei, sê die toelaag moet omskep word in ‘n permanente algemene basiese inkomstetoelaag van een-duisend-500-rand:
# Die Vryheidsfront Plus sê die saak wat daarop gemik was om as bewys te dien van ‘n diepgewortelde kultuur van rassisme by die Universiteit Stellenbosch, het geëindig met die beskuldigde wat onskuldig bevind is. Die oudstudent Theuns du Toit, wat in 2022 aangekla is nadat hy op die besittings van ʼn medestudent geürineer het, is vrygespreek. Die VF Plus se woordvoerder Wynand Boshoff, sê Du Toit kan nou aanbeweeg sonder om as veragtelike rassis gebrandmerk te word:
# Zimbabwe se president, Emmerson Mnangagwa, het ‘n wet onderteken wat vereis dat alle motoriste meer as een-duisend-600 rand vir ‘n jaarlikse radiolisensie moet betaal voordat hulle voertuigversekering kan kry. Hy sê die stap is daarop gemik om die inkomste vir die sukkelende staatsuitsaaier, Zimbabwean Broadcasting Corporation, te verhoog. Kritici, insluitend opposisieleier Nelson Chamisa, het die fooi egter as hard en anti-burgerlik gekritiseer, met verwysing na ekonomiese ontberings. Die wet verbied versekeringverkope aan motoriste sonder ‘n geldige lisensie of vrystelling, wat wydverspreide openbare teenreaksie veroorsaak.
# Rugby: Edinburgh se Suid-Afrikaans-gebore Skotse vleuel, Duhan van der Merwe, is terug na ‘n langtermyn-enkelbesering en kan teen die Bulle speel in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd in Pretoria. Hy het gister saam met sy spanmaats na Suid-Afrika gevlieg. Van der Merwe sal ook vanjaar weer die Britse en Ierse Leeus verteenwoordig nadat hy in 2021 saam met die span na Suid-Afrika gereis het. Edinburgh se afrigter, Sean Everitt, beskryf hom as ‘n speler van wêreldgehalte wat ‘n rykdom van ervaring na die span bring.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-794-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….