Nuus 12:00
BULLETIN 27 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommer oor Amerika se afwesigheid op die vergadering van G20-landbouwetenskaplikes
# Activists and Citizens Forum sê “Kill the Boer” is ’n bevrydingslied
# En ‘n plaasaanvaller kry 20-jaar tronkstraf vir die wrede aanranding op ‘n bekroonde Vrystaatse boer
# Suid-Afrika het kommer uitgespreek oor die afwesigheid van Amerika op die vergadering van internasionale landbouwetenskaplikes wat in Polokwane, Limpopo aan die gang is. Die vierdaagse beraad is ‘n samekoms van kenners van G20-lande om die wêreld se landbou-uitdagings te takel, insluitend klimaatsveranderin en die beperkte befondsing vir boere in ontwikkelende lande. Afgevaardigdes se doel is om voedselsekerheid deur navorsingsamewerking en inligting-uitruiling te versterk. Die adjunk-minister van Landoub , Zoleka Capa, sê Amerika se afwesigheid verswak wêreldpogings:
# Activists and Citizens Forum sê hy is teleurgesteld dat president Cyril Ramaphosa nie aan Donald Trump verduidelik het dat “Kill the Boer” ‘n bevrydingslied is nie. Die Amerikaanse president het verlede week tydens ʼn ontmoeting met Ramaphosa ʼn video gespeel waarin die leier van die EFF, Julius Malema, die lied sing en ook artikels oor plaasmoorde voorgelê om sy mening te steun dat wit boere in Suid-Afrika vervolg word. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê die lied moenie letterlik opgeneem word nie:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom Moeketsi Mphatlatsa se vonnis van 20-jaar tronkstraf vir ‘n wrede plaasaanval in 2020 op ‘n bekroonde boer, Mimie Jacobs, in die Vrystaat. Die Landdroshof in Winnie Mandela, voorheen Brandfort, beskryf die aanranding as genadeloos en fyn beplan. Die NVG se streekswoordvoerder, Mojalefa Senokoatsane, sê hierdie vonnis stuur ‘n sterk boodskap dat gewelddadige landelike misdade nie geduld sal word nie:
# Motorsport: Thailand beplan om ‘n bod in te dien om teen 2028 ‘n Formule Een-wedren aan te bied. Eerste minister Paetongtarn Shinawatra het die naweek tydens die Grand Prix in Monaco hieroor met besluitnemers vergader. ‘n Bod- en uitvoerbaarheidsvoorstel sal volgende week aan die Thaise kabinet voorgelê word vir goedkeuring. Daar word al langer as ‘n jaar planne beraam vir ‘n Grand Prix in Thailand, heel waarskynlik ‘n straatren in die hoofstad, Bangkok.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-675-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-307-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-12-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse musieksensasie Tyla het die Favourite Afrobeats-kunstenaarskategorie gewen op die Amerikaanse Musiektoekennings wat in Las Vegas gehou is. Billie Eilish was die groot wenner met sewe toekennings, insluitend Kunstenaar van die Jaar, Album van die Jaar vir Hit Me Hard Soft, gunsteling vroue-popkunstenaar en Liedjie van die Jaar vir Birds of a Feather. Beyoncé, SZA en Eminem het elk twee toekennings verower. Gracie Abrams is as nuwe Kunstenaar van die Jaar aangewys. Rod Stewart is met die lewensprestasie-toekenning bekroon, terwyl Janet Jackson die Ikoon-toekenning ontvang het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….