Nuus 12:00
BULLETIN 26 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa beklemtoon die noodsaaklikheid van bande tussen Suid-Afrika en Amerika
# Aartsbiskop Makgoba vra groter internasionale druk op Israel
# En tennis: ‘n Emosionele afskeid van Rafael Nadal op Roland Garros
# President Cyril Ramaphosa sê sy suksesvolle werksbesoek aan Amerika het die noodsaaklikheid bevestig om die gesprekskanale oop te hou. Hy sê in sy weeklikse nuusbrief een van die belangrikste uitkomste van die gesprekke met president Donald Trump was ‘n ooreenkoms oor ‘n ekonomiese samewerkingskanaal tussen die twee lande vir verdere besprekings oor tariewe en ‘n wye reeks handelsake. Ramaphosa sê daar is potensiaal om handel tussen die twee lande te verhoog en uit te brei ten opsigte van veral gas, mynbou, landbou en kernkrag.
Solidariteit sê intussen hy verskerp sy veldtog om rassewette in Suid-Afrika te stop en het daarom ‘n regsfonds van sewe-miljoen-rand beskikbaar gestel. Die fonds word gebruik vir talle hofsake teen die nuwe rasregulasies, ʼn saak van minagting van die hof teen Ramaphosa, en een teen die voorgestelde nuwe Transformasiefonds van 100-miljard-rand. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê hulle sal binnekort ʼn verslag oor die uitbreiding van rassewette aan die Trump-administrasie oorhandig:
# Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, vra dat meer internasionale druk op Israel geplaas word. Dit volg na twee afsonderlike lugaanvalle op Gaza die naweek waarin 24 mense dood is. Volgens berigte was een op ʼn skool waar ontheemde gesinne gehuisves word. Makgoba sê Israel se aggressie is nou buite verhouding met Hamas se grusame aanval op 7 Oktober 2023. Hy sê diplomasie is ondoeltreffend terwyl Israel dreig om ʼn hele nasie uit te wis.
# Tennis: Die veertienmalige Franse Ope-wenner, Rafael Nadal, is vereer met ‘n emosionele afskeidseremonie op die Philippe-Chatrier-hoofbaan in Parys. Die Spanjaard het die kleibaantoernooi oorheers sedert sy eerste titel in 2005 tot sy rekord 14de in 2022. Sy jarelange mededingers, Roger Federer van Switserland, Novak Djokovic van Serwië en Andy Murray van Skotland, het by hom op die baan aangesluit om hulde te bring. Nadal, wat 112 wedstryde op Roland Garros gewen en slegs vier verloor het, sê dit was die perfekte afskeid:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-992-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-54-sent per vat.
# En laastens, Disney se aksiefliek Lilo and Stitch het tydens sy openingsnaweek die eerste plek op die lokkettrefferlys gehaal. Die fliek handel oor ‘n chaotiese ruimtewese wat in Hawaii neerstort en deur ‘n jong meisie en haar ouer suster aangeneem word. Mission: Impossible – The Final Reckoning, waarin Tom Cruise die spioen Ethan Hunt speel, het op nommer twee geopen. Die sesde aflewering in Warner Brothers en New Line se langlopende gruwelflieks, Final Destination Bloodlines, is derde. Disney en Marvel se Thunderbolts, en Warner Brothers se vampierriller Sinners het die top-vyf voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….