Nuus 12:00
BULLETIN 20 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Onderwysaktivis loof vinnige optrede teen sewe tieners wat van aanranding beskuldig word
# Kaapstad se burgemeester vra geen besnoeiings aan munisipale of infrastruktuurbefondsing
# En, die VN verwelkom hervatting van beperkte aflewering van hulp aan Gaza
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, het owerhede geloof wat vinnig opgetree het teen sewe tieners wat na bewering ‘n ander meisie in Yeoville, Johannesburg, aangerand het. Die meisies tussen 13 en 14 jaar oud, is gearresteer ná ʼn video waarop ʼn groep ʼn 14-jarige leerder van Bedfordview High School aanrand, soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het. Hulle het gister in die hof verskyn. Makaneta sê leerders moet herinner word aan die gevolge van gewelddadige gedrag:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om te verseker dat munisipale befondsing nie besnoei word in môre se nasionale begroting nie. Die minister sal probeer om die begroting vir die derde keer ter tafel te lê nadat die twee vorige pogings weens politieke en regsuitdagings gestaak is. Hill-Lewis sê meer as 107- miljoen-rand is van toelaebefondsing aan Kaapstad gesny as deel van landwye besnoeiings in 2023/2024:
# Die Verenigde Nasies se hoof van Humanitêre Sake, Tom Fletcher, verwelkom Israelse owerhede se besluit om na 11 weke weer beperkte hulp aan Gaza toe te laat. Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu, sê die aflewering van kos sal slegs voortgaan tot die weermag en privaat maatskappye sentrums opgerig het om hulp ingevolge ʼn Amerikaans-gesteunde plan te versprei, wat die VN verwerp het. Die VN-woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê nege van hul vragmotors het reeds goedkeuring om deur die suidelike Kerem Shalom-kruising te gaan:
# Krieket: Die Mumbai Indians het kontrakte met die Engelse paar Jonny Bairstow en Richard Gleeson en ook Charith Asalanka van Sri Lanka gesluit. Die drie is in die plek van Will Jacks, Ryan Rickelton en Corbin Bosch, wat almal na hul tuislande terugkeer ná die laaste ligawedstryd in Mumbai. Indien Mumbai kwalifiseer, sa die plaasvervangers van die uitspeelronde af beskikbaar wees. Die Mumbai Indians moet môre teen die Delhi Capitals wen om die laaste beskikbare uitspeelplek te bekom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-966-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-227-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-84-sent per vat.
# En laastens, die stroomdiens Netflix het ingegryp en die kinderprogram Sesame Street gered na Warner Brothers Discovery besluit het om nie sy vyfjaar-ooreenkoms vir die program te hernu nie. Netflix het ‘n ooreenkoms met Sesame Workshop aangegaan ingevolge waarvan die stroomdiens die 56ste reeks later vanjaar gaan uitsaai. Die nuwe seisoen spog met ‘n vars formaat en aanhangers se gunsteling segmente soos Elmo’s World en Cookie Monster’s Foodie Truck maak weer hulle verskyning. Sesame Workshop sê hy is opgewonde om kinders oral steeds te help om slimmer en sterker te word en vriendeliker te wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….