Nuus 12:00
BULLETIN 19 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Dieselpryse kan volgende maand moontlik daal tot die laagste vlak in drie jaar
# GOOD sê die staat se gekibbel oor regskoste skep verdere oponthoud met apartheidsake
# En Amerikaanse leiers wens Joe Biden sterkte toe na sy kanker-diagnose
# Dieselpryse kan volgende maand met tot 94-sent-per-liter daal, wat dit moontlik die laagste vlakke in drie jaar sal laat bereik. Die Sentrale Energiefonds sê die verwagte daling kan toegeskryf word aan dalende wêreld-oliepryse en die rand wat sedert middel April met meer as tien-persent versterk het. Daar word verwag dat die prys tussen 74- en 94-sent-per-liter sal daal, wat beduidende verligting vir die vrag- en die landbousektor sal bring. Die fonds het egter gewaarsku dat skommelinge in oliepryse en wisselkoerse die finale aanpassing kan beïnvloed.
# Die GOOD-party het president Cyril Ramaphosa gevra om sy ministers van Polisie en Justisie aan te sê om die regskoste van voormalige staatsagente te dek wat as beskuldigdes of sleutelgetuies in apartheidsake verskyn. Die gewese hoof van die polisie se Vlakplaas-eenheid, Eugene de Kock, het die hof verlede week genader. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê De Kock vra geld vir ‘n prokureur om in die heropende geregtelike ondersoek na die dood van die Cradock-vier te getuig:
# Die DA-leier John Steenhuisen sê die belangrikste sake op sy lys sal die vestiging van handelsbande tussen Suid-Afrika en Amerika wees, veral op landbougebied. Steenhuisen, in sy hoedanigheid as minister van Landbou, is deel van Ramaphosa se afvaardiging om in Amerika met president Donald Trump en senior amptenare te vergader. Hy sê voorkeur-handelsooreenkomste soos die Wet op Afrika-groei en Geleenthede dra aansienlik by tot die land se ekonomie en dit sal rampspoedig wees om dit te verloor.
Trump het intussen sy hartseer uitgespreek oor sy voorganger, Joe Biden, se kankerdiagnose en hom ‘n spoedige herstel toegewens. Die 82-jarige is gediagnoseer met aggresiewe prostaatkanker wat na sy bene versprei het. Biden se adjunk, Kamala Harris, sê sy vertrou hy sal dié uitdaging met dieselfde veerkragtigheid en optimisme hanteer as wat kenmerkend is van sy lewe en leierskap. Die gewese president, Barack Obama, sê hy glo Biden sal die uitdaging beveg met sy uitstaande vasberadenheid en waardigheid.
# Krieket: Engeland se toetskaptein, Ben Stokes, sê hy het drank gelos om vinniger te herstel van sy jongste agterkniesening-operasie. Hy sal na verwagting terugkeer in die eenmalige toets teen Zimbabwe wat Donderdag op Trent Bridge begin nadat hy van Desember op die krukkelys was nadat hy sy linker-agterkniesening geskeur het in Nieu-Seeland. Stokes het aan die Untapped-potgooi gesê dis onwaarskynlik dat hy heeltemal sal ophou drink, maar hy het geleer om sy gebruik te bestuur:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-342-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-223-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….