Nuus 12:00
BULLETIN 14 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Suid-Afrikaanse hofsaak vertraag die uitlewering van ‘n Britse voortvlugtige
# Die dodetal in ‘n kroeg-brand in Bangkok styg tot 30
# En gholf: Die beseerde Louis Oosthuizen onttrek aan die Britse Ope
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê die Britse voortvlugtige, Ndodana Tshuma, moet eers teregstaan in Suid-Afrika voordat sy uitleweringsverrigtinge kan voortgaan. Tshuma, wat in Brittanje gesoek word vir die moord op sy vrou en twee dogters, het gister in die Johannesburgse Landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie nadat hy Vrydag in Kensington aangekeer is. Woordvoerder Mthunzi Mhaga sê albei sake is tot volgende Woensdag uitgestel:
# Public Interest South Africa sê die herhaaldelike versuim van sleutelgetuies om voor die Madlanga-kommissie te verskyn, dikwels weens skielike mediese noodgevalle, is ‘n bron van kommer. Die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, het nie gister getuig nie omdat sy onverwags in die hospitaal opgeneem is. Sy is nou een van vele getuies wat kort voor hul verskyning siek geword het. Die belangegroep sê indien omstandighede dit regverdig, moet die kommissie onafhanklike mediese bevestiging laat doen om te verseker dat uitstel geregverdig is en nie die publiek se vertroue ondermyn nie.
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê daar was niks onbehoorlik aan sy vergaderings met Resolve Communications en internasionale kommunikasie-tegnologie-maatskappye nie. Politieke partye vra ‘n ondersoek ná onthullings dat Resolve, van die voormalige DA-leier Tony Leon, ontmoetings gereël het tussen DA-ministers en privaat kliënte, insluitend Starlink van Elon Musk. Malatsi sê daar is bestaande maniere om onbehoorlike druk of propaganda aan te meld, maar dis dalk onvoldoende:
Nuus uit die buiteland:
# Die dodetal in gisteroggend se brand in ‘n gewilde kroeg in Bangkok, Thailand, het tot 30 gestyg – die dodelikste brand in die hoofstad in 17 jaar. Meer as 70 mense is beseer. Owerhede het die identiteit van 27 slagoffers bevestig en die meeste is vermoedelik Thaise burgers. Voorlopige ondersoeke dui aan ‘n kortsluiting in ‘n lugversorger het die brand veroorsaak. Die nasionale polisiehoof, Kittiratt Phanphet, sê nalatigheid is die hoofvermoede wat hul ondersoek lei.
# Gholf: Louis Oosthuizen van Suid-Afrika het weens ʼn rugbesering onttrek aan die 154ste Britse Ope en LIV Gholf se Verenigde Koninkryk-geleentheid in Rocester. Die 43-jarige Oosthuizen, wat die Ope in 2010 op St Andrews gewen het, sê hy fokus nou op sy herstel sodat hy kan terugkeer. Die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter sal hom vervang as die eerste alternatief vir die Ope wat Donderdag op Royal Birkdale in Engeland begin. Die Duitser Matti Schmid en die Brit Andrew Wilson is nou die eerste en tweede alternatiewe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-545-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-22-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….