Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommer neem toe oor SA se verkiesingstelsel wat al hoe meer in twyfel getrek word
# AfriForum verwelkom die verlenging van die spertyd vir geskrewe voorleggings oor die Bela-wetsontwerp
# En, krieket: ‘n Eerste oorwinning van die SA20-seisoen vir die Sunrisers Eastern Cape
# Die politieke ontleder Amanda Gouws waarsku teen onlangse retoriek wat Suid-Afrika se verkiesingstelsel in twyfel trek, en sê dis gevaarlik. Haar reaksie volg op stellings deur oudpresident Jacob Zuma en die ANC se voormalige sekretaris-generaal, Ace Magshule, wat bespiegel het oor die moontlikheid van verkiesingsbedrog en kommer oor die verkiesingsproses uitgespreek het. Gouws sê sulke uitlatings hou ‘n bedreiging in vir die demokrasie:
# AfriForum verwelkom die uitstel van die spertyd van 19 Januarie vir die publiek om skriftelike voorleggings in te dien oor die Wetsontwerp op Wysiging van die Basiese Onderwyswette. Die spertyd is nou die 31ste van die maand. ‘n Woordvoerder van AfriForum, Alana Bailey, sê indien die Bela-wetsontwerp in sy huidige formaat goedgekeur word, sal die besluitnemingsbevoegdhede van gemeenskappe en ouers ten opsigte van baie belangrike aspekte van hulle kinders se opvoeding, beëindig word:
# Die Vereniging van Staatsamptenare kap na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens oor nie-voldoening aan die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid by sy brandbeskadigde gebou in Rissikstraat, Johannesburg. Die vakbond sê daar was gedeeltelike herstelwerk, maar die gebou voldoen nie aan veiligheidstandaarde nie. Volgens die VSA hou die SAID vol die gebou is veilig, maar werknemers kla oor ʼn voortdurende brand- en gasreuk. Henry Hall van die VSA is uiters bekommerd oor onvoldoende veiligheid in regeringsgeboue, en onderneem om regstappe te doen indien werknemers se gesondheid in gevaar gestel word.
# Die Amerikaanse instelling wat nie-amptelike bande met Taiwan hanteer, beskryf Nauru se besluit om kort na ʼn verkiesing bande met Taiwan te verbreek, as ongelukkig, en waarsku China se beloftes aan die eiland in die Stille Oseaan, kan moontlik nie nagekom word nie. Reuters berig Amerikaanse amptenare het voorheen reeds hulle misnoeë uitgespreek omdat China jag maak op Taiwan se bondgenote, veral in Sentraal-Amerika. Nadat Nauru vroeër die week bande met Taiwan verbreek het, bly slegs 12 lande oor wat die eilandnasie formeel erken.
# Krieket: Sunrisers Eastern Cape se kolwer, Jordan Hermann, sê persoonlike doelwitte het slegs betekenis as die span wen. Hy het die Sunrisers na hulle eerste oorwinning in die tweede SA20-seisoen gelei toe hulle M-I Cape Town op Nuweland met vier lopies verslaan het. Die 22-jarige Hermann het ʼn indrukwekkende honderdtal aangeteken en die besoekers het 202 vir twee op die telbord geplaas. Die tuisspan is daarna beperk tot 198 vir vyf. Hermann sê hy is tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-727-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-25-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….