Nuus 12:00
BULLETIN 15 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre komitee vra ‘n regsmening oor moontlike aanklagte teen AfriForum en Solidariteit
# Tennis: Zverev en Sabalenka word uitgeskakel uit die Italiaanse Ope
# En Suid-Afrika is onder die voorste drie lande waarheen Britse uitgewekenes vanjaar verhuis het
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Internasionale Betrekkinge en Samewerking vra die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, om ‘n regsmening te bekom oor moontlike aanklagte teen AfriForum en Solidariteit. Die komitee se voorsitter, Supra Mahumapelo, sê die organisasies is aan die voorpunt met die verspreiding van waninligting oor Suid-Afrika in Amerika. Dit volg nadat 49 Afrikaners na Amerika vertrek het waar hulle as vlugtelinge ontvang is. Mahumapelo sê daar is geen volksmoord in Suid-Afrika soos die Amerikaanse president, Donald Trump, beweer nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor onlangse verwikkelinge wat daarop dui dat die Nasionale Loteryekommissie in duie kan stort. Die kommissie word van wanbestuur en van onreëlmatige en onwettige aanstellings beskuldig. Claude Naiker van die vakbond sê hulle is baie bekommerd oor die swak bestuur en die aanstelling van mense en raadgewers met ‘n twyfelagtige karakter wat korrupsie aanblaas:
# ’n Boumaatskappy wat aan Fase Twee van die Lesotho-Hoogland-waterprojek werk, is gedwing om sy bedrywighede te staak nadat hy glo suur en olierige afvalwater gestort het in riviere en die Katse-reservoir, wat drinkwater aan Suid-Afrika voorsien. Volgens Moneyweb het die maatskappy, Kopano Ke Matla Joint Venture, ná ontvangs van ’n skorsingsbrief duisend-400 werkers onbepaald huis toe gestuur vanaf die bi-nasionale projek van 42-miljard-rand. Die woordvoerder van die Lesotho-Hoogland-Ontwikkelingsowerheid, Mpho Brown, sê die maatskappy het tot 26 Mei om die nie-nakoming van omgewingsregulasies reg te stel.
# Tennis: Die derde-gekeurde Carlos Alcaraz speel in die halfeindronde van die Italiaanse Ope teen die plaaslike speler Lorenzo Musetti. Die Spanjaard het die Brit, Jack Draper geklop en is steeds op koers om sy eerste titel in Rome te wen. Musetti het die verdedigende kampioen, Alexander Zverev van Duitsland, verslaan om die derde Italianer te word wat die voorlaaste ronde haal. In die vroue-afdeling het Qinwen Zheng van China met die topgekeurde Aryna Sabalenka van Belarus afgereken om die halfeindronde te bereik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-en-63-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-150-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika is onder die voorste drie lande waarheen Britse uitgewekenes vanjaar verhuis het. Volgens die hervestigingsfirma U.K.ABROAD in Brittanje is die grootste trekpleisters bekostigbaarheid, die warm klimaat, die Engelssprekende omgewing en lewensgehalte. Australië is boaan die lys, gevolg deur Kanada en Suid-Afrika. Nieu-Seeland en Amerika voltooi die top-vyf. Meer as 5,5-miljoen Britte leef buite die Verenigde Koninkryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….