Nuus 12:00
BULLETIN 14 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa vra om verskoning vir die skielike terugkeer van beurtkrag
# Minister Ntshavheni sê daar sal nie politieke inmenging by die nuwe intelligensie-agentskappe wees nie
# En gemengde gevegskuns: Dricus du Plessis gaan in Augustus sy wêreldtitel verdedig
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het om verskoning gevra vir gister se skielike terugkeer van beurtkrag, maar is steeds optimisties oor ‘n beurtkragvrye winter. Eskom is gedwing om fase 2-beurtkrag in aandspitstye in te stel tot môreaand – van 4-uur die middag tot 10-uur saans. Dit volg op opwekkingseenhede wat buite werking is en onderbrekings in die afgelope 24-uur. Ramokgopa sê hulle werk hard om te verseker beurtkrag word nie ‘n gewoonte nie:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê daar sal geen politieke inmenging by die twee nuwe intelligensie-agentskappe wees nie. Die Staatsveiligheidsagentskap word in twee verdeel: die Buitelandse Intelligensiediens om bedreigings teen nasionale veiligheid te identifiseer, en die Binnelandse Intelligensie-agentskap, wat verantwoordelik is vir teenintelligensie. Dis ‘n poging om die intelligensiedienste te hervorm en oorsig en aanspreeklikheid te verbeter. Ntshavheni sê die twee nuwe strukture sal binnekort in werking wees:
# AfriForum sê dis tyd dat Suid-Afrika goedkoper mediese fonds-keuses kry. Dit volg op ’n verslag van die Raad op Mediese Skemas oor laekoste-voordele. AfriForum stem saam dat die huidige raamwerk gebreke het, maar vra die instelling daarvan eerder as verdere vertragings. Woordvoerder Louis Boshoff sê 24 jaar se navorsing sonder goedkeuring is onaanvaarbaar. Hy voer aan dat openbare gesondheidsorg en die Nasionale Gesondheidsversekering nie die gaping kan vul nie.
# Gemengde gevegskuns: Die Suid-Afrikaner Dricus du Plessis gaan sy onbestrede wêreld-middelgewigtitel op 17 Augustus op UFC 319 in die United Centre in Chicago verdedig teen die Rus Khamzat Chimaev. Du Plessis het in Februarie sy titel behou toe hy die Amerikaner Sean Strickland verslaan het. Hy het 20 van sy 23 gevegte met uitklophoue gewen, terwyl Chimaev se onoorwonne rekord 16-0 is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 24-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-367-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-238-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-92-sent per vat.
# En laastens, twee Suid-Afrikaanse restaurante het die gesogte lys van die Wêreld se 101 Beste Braairestaurante vir 2025 gehaal. VUUR op Stellenbosh – nommer 87 op die lys – is ook as Afrika se Beste Braairestaurant aangewys, terwyl The Blockman van Johannesburg 97ste geplaas is. Die Argentynse restaurant Don Julio Parrilla, in die hartjie van Buenos Aires se lewendige Palermo-distrik, is boaan die lys, gevolg deur Margaret in Sydney, Australië. Laia Erretegia in die skilderagtige dorpie Hondarribia in Spanje is in die derde plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….